2016-11-21

Die Handwoordeboek van die Afrikaans se Taal se woorde van 2016

Aan die einde van elke jaar maak woordeboeke hulle lysies bekend van woorde wat die gees van die vorige twaalf maande weerspieël. Hier is die HAT se lys vir hierdie jaar:


In 2016 bestaan daar by wetenskaplikes geen twyfel meer nie dat die aarde ’n nuwe geologiese tydvak binnegaan: die Antroposeen – ’n epog deur die mens gemaak.

Millenniërs leef en gaan kinders kry in ’n tyd gekenmerk deur die gevolge van die eeue lange Nywerheidsomwenteling: die ontploffing van die wêreld se bevolking; industrialisering; mynbouaktiwiteite wat die aarde verrinneweer; radioaktiewe afval; die vorming van tegnofossiele van beton, aluminium en plastiek, en nogmaals plastiek; koolstofafsettings van fossielbrandstowwe; neerslae van pesbestrydingsmiddels; die uitwissing van spesies; klimaatsverandering, aardverhitting en uiterste weerpatrone. In 2016 gaan Suid-Afrika gebuk onder die ergste droogte in drie dekades. Groot dele van Afrika smag na water.

Ook Gesondheidskwessies was vanjaar, oudergewoonte, in die kollig: die vrees vir nuwe epidemies en antibiotikaweerstandige infeksies, nuwe navorsing en die ontwikkeling van middels om nuwe siektes te bekamp. In Augustus het die VN se Algemene Vergadering in ’n buitengewone verklaring superbakterieë, waarteen gewone antibiotika nie meer effektief is nie, die stryd aangesê.

In die mediese joernaal Science Translational Medicine is pas ’n nuwe middel teen malaria bekend gestel: medikasie verpak in ’n stervormige omhulsel van polimeer, waarvan die ses punte soos die lemme van ’n knipmes opvou sodat dit in ’n gewone kapsule pas. Wanneer die kapsule in ’n mens se spysverteringskanaal oplos, ontvou die “ster” en stel tot twee weke lank medisyne in die liggaam vry – totdat die spysverteringsproses die polimeer afbreek. In die toekoms sal pasiënte ook ander langwerkende middels in sulke sterkapsules inneem.

Maar vir ander probleme in 2016 is daar ongelukkig geen superpil nie.

In talle lande misluk regerende partye en hulle beleide skouspelagtig. Die onvermoë van ekonomieë om werk te skep, ongelykhede en durende armoede laat op voetsoolvlak nuwe kragte woel van populisme teen elitisme. Ook in Suid-Afrika (ten spyte van wat sommige as die transformasiemanie bestempel) is ontnugtering aan die orde van die dag.

Individue en gemeenskappe, werkers, werkloses en studente, kap in 2016 hard na partypolitieke establishments en globale liberalisme (prof. Koos Malan van die UP se departement Publiekreg munt vir laasgenoemde die nuutskepping indiversalisme).

Aan globalisering, ekonomiese integrasie en die ideaal van ’n universele mensdom het nuwe gemeenskapsbewegings geen erg nie. Uitdaging en verset van onder na bo loop uit op die Britse breekspul Brexit, en die verkiesing van Donald Trump as 45ste Amerikaanse president.

In Suid-Afrika is die #mustfall-bewegings nog lank nie verby nie; baie kan en moet nog val. Inploffing duur voort op vele terreine, van die parlement, die onderwys en kerke tot in SA rugby.

Nes verlede jaar het die een ná die ander mediasirkus ons vermaak en ontstel. In die sosiale media wemel dit van klikaas. Op valsnuuswebwerwe word wolhaarstories as waarhede verkondig. Terwyl terreur die wêreld ruk en miljoene ontheemdes oor die aarde swerf; miljoene kinders geen geborgenheid ken nie.

Ons woord van die jaar 2016 is epogwisseling: die oorgang van een tydvak in die volgende; tydvakwisseling.

Wat is jou woord van 2016?


2016-03-07

Oudiovisualisering van betekenis in HAT Aanlyn

’n Opwindende ontwikkeling in HAT Aanlyn en Longman Online, Pearson SA se digitale woordeboekversamelings, is die verskillende nuwe oudio- en visuele maniere wat ingespan word om woordbetekenisse te verklaar.

As jy ʼn gereelde gebruiker van HAT Aanlyn is, het jy moontlik reeds die groeiende Beeldbiblioteek opgemerk (gaan loer gerus by U tot Z).

Wat is dit?

In papierwoordeboeke word die betekenisse van woorde gewoonlik slegs met woorde verduidelik – met behulp van ’n definisie en/of 'n vertaalekwivalent, met net hier en daar ’n eenvoudige illustrasie. Definisies word dikwels geskryf deur gebruik te maak van ’n beperkte definisiewoordeskat. Net sowat 2 500 woorde. Die veronderstelling is dat ’n beperkte woordeskat dit vir woordeboekgebruikers makliker maak om definisies te verstaan. Maar aan hierdie werkswyse is daar ook nadele verbonde: ’n Beperkte woordkeuse maak dit vir woordeboekmakers erg moeilik om fyner betekenisskakerings te definieer.

’n Belangrike kenmerk van die nuwe, elektroniese medium waardeur HAT- en Longman-woordeboeke sedert einde verlede jaar geraadpleeg kan word, is die multimodaliteit daarvan.

Vir die beskrywing van betekenis hou die nuwe Longman-HAT-portaal groot potensiaal in.

Hoe lyk dit?

In die lewende aanlyn woordeboek, bevry van die ruimte- en kostebeperkings van papier, kan HAT se redakteurs by omtrent elke trefwoord en betekenis wat hom daartoe leen, nou, intyds, as bykomende betekenisaanwyser, ’n foto of illustrasie voeg. Dikwels sommer ’n hele paar. Die proses is reeds goed op dreef, en verskeie studies wys op die voordele daarvan.

In 1998 reeds het Hilary Nesie die doeltreffend van illustrasies ondersoek om die betekenisse van alledaagse huishoudelike voorwerpe oor te dra. Haar bevinding, toe reeds, was dat niemoedertaalsprekers wat op definisies en voorbeelde alleen moet staatmaak, dikwels selfs alledaagse voorwerpe nie korrek kan identifiseer nie. By die toevoeging van illustrasies tot die verbale verduideliking van betekenis vind hierdie woordeboekgebruikers groot baat.

A. Gumkowska (2008) toon aan dat leerders woordeskat wat deur illustrasies toegelig en ondersteun word, ook baie beter onthou.

Beide Nesie en Gumkowska wys op die bydrae van die aanwesigheid van foto's en ander illustrasiemateriaal tot die verwerwing van ’n ruimer woordeskat.

Deur die nuwe, stelselmatig groeiende foto- en illustrasieversameling, interessante videogrepe, klank- en animasiehulpmiddels bied HAT Aanlyn aan gebruikers ’n nuwe ervaring: Woordeboekgebruikers, met inbegrip van onderwysers en leerders, word beter betrek, gehelp om woorde beter te verstaan, hul woordeskat uit te brei en addisionele kennis te verwerf.

Hoe klink dit?

Benewens die korrekte uitspraak van Engelse woorde en sinne (Afrikaanse uitspraakleiding kom mettertyd by), is daar (aan die Longman-kant) ook reeds ’n verskeidenheid nietaalkundige klanke bygevoeg. Werklike opnames van ʼn klok wat lui, ’n ghong wat slaan, ’n viool wat speel, ’n leeu wat brul, ’n uil wat roep ...

Saam met die groeiende versameling foto’s, video’s en animasies dra ’n verskeidenheid oudiogrepe by www.hataanlyn.co.za verder tot verheldering van betekenis by.



Gumkowska, A. 2008. The Role of Dictionary Illustrations in the Acquisition of Concrete Nouns by Primary School Learners and College Students of English. Ongepubliseerde BA-tesis. Stettin: Collegium Baliticum

Nesie, Hilary. 1998. “Defining a Shoehorn: The Success of Learners’ Dictionary Entries for Concrete Nouns” In: Atkins, B.T.S. (red.). Using Dictionaries. Studies of Dictionary Use by Language Learners and Translators: 159-178. Lexicographica 88. Tübingen: Niemeyer

2015-12-13

Woorde van 2015

Ná 21 jaar van demokrasie word die Reënboognasie se vrygeborenes vanjaar mondig. In 1994 het ouers gedroom van ’n rooskleurige toekoms vir hierdie kinders, maar vandag lyk die prentjie dalk anders. Wat ons opgeval het, is dat baie van vanjaar se kandidate vir LitNet se Afrikaanse woord van die jaar van die een of ander misnoeë getuig. Gelukkig is daar darem ook heelparty inskrywings wat vir ’n ligter luim sorg. Om ’n kortlys saam te stel, was nie maklik nie.

Bo-aan die HAT se alfabetiese lys staan ’n eponiem: die naam van die eens potjierol- maar later skraal begrafnisondernemer na wie die hoëvet-laekoolhidraat-dieet genoem is waaroor verslankers en voedingskundiges in Suid-Afrika nog lank nie uitgepraat is nie.



’n Woord uniek aan Suid-Afrika wat die HAT se snare geroer het, is rieldans – ’n ou Khoi-San-tradisie wat ál sterker herleef. In Julie het die Nuwe Graskoue Trappers én hulle orkes, van Wuppertal, by die Wêreldkampioenskap vir Uitvoerende Kunste deelnemers van altesame 60 lande nie naby hulle stof laat kom nie. Uit Los Angeles, waar die kampioenskap plaasgevind het, het hulle hande vol medaljes, waaronder vier goues, huis toe gebring. Soos hulle afrigter, Floris Smith, sê: “Almal weet nou van rieldans!”


Die Afrikaanse rymkletskultuur in die Noord-, Suid-, Oos- en Wes-Kaap het vanjaar ook ons aandag getrek. Ook enkele nuutskeppings. En, soos elke jaar, woorde in verband met tegnologiese ontwikkeling wat haas elke aspek van ons lewe beïnvloed.

Hier is die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal se kortlys vir woord van die jaar:

Banting, ook met kleinletter, banting, asook die werkwoord, bant
hommeltuig
kuberwolk
leierskapsvakuum
rieldans
rymklets
spelifikasie
vrygeborene
webinaar, of webseminaar, en
windplaas

Kyk hier na die inskrywings en ander kortlyste vir LitNet se Afrikaanse woord van die jaar 2015.


(Hierdie inskrywing het ook op Neder-L, Elektronisch tijdschrift voor de neerlandistiek verskyn.)

2015-08-20

’n Afrikaanse woordeboek vir die 21ste eeu

Tien jaar ná die verskyning van die vyfde uitgawe van die HAT is die sesde uitgawe op die rakke. Wat het verander? Ná my en Jana se aanstelling deur Pearson, die wêreld se grootste opvoedkundige maatskappy, werk daar vir die eerste keer twee voltydse leksikograwe aan die HAT, terwyl prof. Rufus Gouws van die Universiteit van Stellenbosch as deeltydse redakteur aanbly. Dit skep die geleentheid vir ’n deurdringende hersiening van die teks.

As mens dink aan die byvoeging van nuwe woorde – daar is meer as 3 000 van hulle in HAT6 – is neologismes wat tegnologiese vooruitgang weerspieël, gewoonlik van die eerstes wat by ’n mens opkom. In vorige uitgawes van die HAT was daar byvoorbeeld heelparty samestellings met telefoon, soos telefoongids, telefoonpaal en telefoonhokkie. In die nuwe HAT is daar samestellings met wolk, soos wolkberging en wolkverwerking. Soos ’n flinke Superman wat van sy kantoorpak in ’n telefoonhokkie ontslae raak, het die HAT in die wolke in opgevlieg. Ons Afrikaanssprekende tonge geniet vandag smake van die wêreld oor. In die ou dae was ons tevrede met stoweappels, stowepere en stowepatats; nou smul ons aan espetada, teppanjaki en tandoori-hoender. Woorde soos stylghoeroe, blieng, verslankingsklub en vertelkunsterapie wys die HAT bly op die hoogte en in die mode. Woorde soos tikkop, tiksmous en tikhuis wys die HAT is ook van die donker kant van ons samelewing bewus.

Argaïese woorde en uitdrukkings is uit die nuwe papier-HAT verwyder, maar hulle is nie in die doofpot gestop nie. Die nuwe, onverkorte HAT is van Augustus af op die internet raadpleegbaar. Hier, waar ruimte onbeperk is en die redakteurs die woordeboek deurentyd kan bywerk, kry ou woorde en uitdrukkings ’n nuwe tuiste en lewe. Die aanlyn HAT is soepel, gevoelig vir tendense en die kommentaar van sy gebruikers. Leemtes en gebreke, wat onder die woordeboekmakers se aandag kom, kan vinnig aandag kry.

Die byvoeging van nuwe stof en die verwydering van die oue is redelik maklik. Heelwat moeiliker is die uitkenning van omskrywings, voorbeeldsinne en uitdrukkings wat nog ’n ouer tydgees weerspieël. Hoe pas ons inskrywings by die 21ste eeu aan? Afrikaanssprekendes is byvoorbeeld lankal nie meer agraries en behep met die plaas en die jag nie. Nee, hulle is veral ook jonk en verstedelik en kosmopolities ingestel.

In die konstitusionele staat waarin die HAT voortbestaan, staan menseregte en menswaardigheid voorop. Hoe vereenselwig ons ’n uitdrukking soos "op jou bas kry" met dié konteks? Afrikaans wemel nog van uitdrukkings met lyfstraf en fisieke geweld as tema. Hoe om hierdie uitdrukkings in ’n woordeboek van eietydse Afrikaanse te weerspieël en te verklaar ... Dit kan die woordeboekmaker soms goed laat kopkrap.

Die groter bewustheid van die leefwêreld van sy gebruiker het ook ’n groener HAT tot gevolg. In vorige uitgawes is die olifant in terme van sy kosbare ivoor beskryf, walvisse in terme van die olie wat hulle lewer. Kleinwild is sonder skroom in terme van die jag beskryf. In HAT6 sê ons bloot watter diere as kleinwild beskou word. Die voorbeeldsin meld dat boere aangemoedig word om kleinwild op hulle plase aan te hou om daardeur jakkalse van hulle vee af te probeer weghou.

Die nuwe HAT is, ten slotte, ook ’n woordeboek vir ’n ruimer taalgemeenskap. Met die hulp van prof. Frank Hendricks en lede van die Universiteit van Wes-Kaapland se Departement Afrikaans en Nederlands het ons reeds ’n goeie gros eg Kaapse woorde opgeneem, soos gattas (polisie), mang (tronk), piemp (verklik), poenankies (fraai, oulik), skanghagha (in die haak) en tiep (’n roes uitslaap). Ook heelwat Moesliem-woorde is ingesluit, soos fadjer (oggendgebed), koenoet (gebed van gehoorsaamheid), pwasa (vastyd), sjoekran (dankie) en wieter (’n naggebed). Die kennis van Mahdi Abrahams, ’n ou kennis van my en eienaar van die Readers’ Den-comicswinkel, was hier van groot hulp.

Negentig jaar gelede het die HAT ontkiem as uiting van ’n eng nasionalistiese trots. Vandag omhels hy die hele taalgemeenskap. HAT6 erken en respekteer menswaardigheid, het ekobewus geraak, hou tred met nuwe tendense en tegnologie. Die nuwe HAT het die beperking van papier ontsnap. In die internetwolk, hoop ons, bly hy nog lank een van Afrikaans se vernaamste naslaanbronne.

Fred Pheiffer in gesprek met Ampie Muller in die program "Boekkeuse" op Fine Music Radio

2015-08-19

Oor Afrikanerskap

Ek lewer graag kommentaar op Albert Nothnagel (Die Burger, 14 Augustus 2015) se verwysing na HAT se “rassistiese blaps” in die definisie van Afrikaner.

In die verklaring van woordbetekenis gee ’n handwoordeboek soos HAT daardie waarde(s) wat algemeen geken en gebruik word – nie noodwendig die betekenis wat die leksikograaf self aan die woord sou wou heg nie.

’n Gedrukte woordeboek het ruimteprobleme en betekenisverklarings word dikwels volgens vasgestelde woordeboekkonvensies in verdigte vorm aangebied; ook die verklaring van Afrikaner: “(veral wit) persoon (met ’n sterk gevoel van nasietrots) wie se moeder- of huistaal Afrikaans is.”

Volgens hierdie konvensie is die dele tussen hakies weglaatbaar en is die kernbetekeniswaarde: “persoon wie se moeder- of huistaal Afrikaans is”.

Dat die woord ook dikwels gebruik word om veral na wit mense te verwys en dat dit soms op ’n sterk gevoel van nasietrots dui, is steeds nie te betwyfel nie. Daarvan moet ’n woordeboek blyke gee. Maar dit is nie die hoofbetekeniswaarde nie en HAT dui dit so aan – en so ook die betekenisverskuiwing wat plaasgevind het.

Die onverklaarde samestellings “Afrikaner: ~dom, ~kind,~skap, ~volk” is voorbeelde van hoëgebruiksfrekwensiewoorde; daarom is hulle opgeneem; nie as “rassistiese sout” nie, maar as tipiese kombinasies waarin Afrikaner- steeds gebruik word.

HAT se bewerking van Afrikaner is nie volgens ideologiese oortuigings gedoen nie, maar volgens dit wat in die taal werksaam is. Dit is die opdrag aan ’n handwoordeboek.

Rufus Gouws

2015-07-01

Waar die mond van vol is, loop die HAT van oor


Daar is ʼn mooi anekdote van ’n vrou wat vroegaand tydens beurtkragdonkerte in haar kombuis ’n vreemde geluid hoor. By nadere ondersoek sien sy toe ’n mol wat via die oop agterdeur die kombuis ingekom het en stewig op pad is na die aangrensende gesinskamer.

Sy het geen hartstog vir molle gehad nie maar wou ook nie die knaagdiertjie molesteer nie. Sy het geweet haar seun wat aanstons tuis sou wees, sou in die mol belangstel. Toe gryp sy ’n roomysbak en sit dit oor die mol om hom te vang. Sy het skaars haar rug gedraai toe sy weer iets hoor. Met die omkyk sien sy die roomysbak is aan ’t beweeg. Sy vat toe ’n pan en sit dit bo-op die roomysbak bo-op die mol. Net toe gaan die krag aan en vanuit die gesinskamer hoor sy Sewende Laan se nuwe kenwysie. Sy stap daarheen en in die deur draai sy om – want die pan met die roomysbak met die mol beweeg weer vorentoe. Op die kaggelrak in die gesinskamer, tussen Die Bybel en Die Burger staan die HAT – en dié plaas sy toe bo-op die pan, bo-op die roomysbak, bo-op die mol. En die mol het nie weer beweeg totdat haar seun huis toe gekom het nie.

Die afgelope vyftig jaar was HAT ’n praktiese gebruiksinstrument in baie huise – soms om molle te vang, soms om blomme in te pars en, by uitstek, as deurstop. HAT het deel van Afrikaanse huishoudings geword – ’n vriendin het vir haar dogter met dié se kombuistee ’n HAT gegee, want wat is ’n huis sonder ’n HAT? Vir haar ooievaarstee sal sy seker ’n Klein HAT kry.

Maar die werklike doel van HAT is nie om molle te vang , maar om die taal vas te vang en vryheid aan sy gebruikers te kan gee. Die werklike doel van HAT is nie om dooie blomme pars nie, maar om die bloeisels van ’n lewende taal te vertoon. Die werklike doel van HAT is nie om ’n statiese deurstop te wees nie, maar om die deur van taal en kennis oop te maak. Die sewentiende-eeuse leksikograaf Amos Komensky se woordeboek het die titel gehad Ianua Linguarum Reserata - Die poort van tale ontsluit. Dit is wat HAT wil doen. HAT wil die poorte van taal ontsluit om aan sy gebruikers toegang tot kennis te gee.

Vanjaar vier ons 90 jaar wat Afrikaans as onderrigtaal erken is. Vir ’n beduidende deel van hierdie tyd het HAT ’n belangrike ondersteunende rol gespeel. In baie klaskamers, studeerkamers en werkkamers was dit die gesaghebbende bron van inligting. Soos Afrikaans verander het, het HAT ook verander en deurgaans op ’n dinamiese manier die taalverandering weerspieël. HAT het nie probeer om voor te skryf nie, maar eerder om te beskryf wat in die taal werksaam is. HAT was nie net op kanseltaal gerig nie maar ook op die taal van ons oggend- en aandpraatjies. HAT wil die werklike Afrikaans weergee want waar die mond van vol is, loop die HAT van oor!

HAT was in baie opsigte ’n baanbreker. In 1998 met die werk aan die vierde uitgawe was HAT een van die eerste Suid-Afrikaanse woordeboeke om op CD-ROM te verskyn. In 2015 word HAT aanlyn bekendgestel. Nou is dit nie net meer “Wat is ’n huis sonder ʼn HAT?” nie, maar ook “Wat is die internet sonder ʼn HAT?”

Die vorige uitgawes van HAT is deurgaans deur deeltydse leksikograwe saamgestel: Schoonees, Swanepoel, Du Toit en Booysens as samestellers van die eerste uitgawe in 1965; Odendal van die tweede en derde uitgawes (1979 en 1994) en Odendal en Gouws van die vierde en vyfde uitgawes (2000 en 2005). Vir die sesde uitgawe het Pearson twee voltydse leksikograwe aangestel: Jana Luther en Fred Pheiffer, om saam met Rufus Gouws as redakteurs op te tree.

Leksikografie is nie net ʼn stokperdjie nie; dit is ʼn leefwyse. Drie dae voor sy dood het Francois Odendal aan my gesê dat daar ʼn paar goed is wat hy nog in HAT wil verander. Hopelik is sy wense in HAT6 deurgevoer. Met hierdie uitgawe eer ons ook sy nagedagtenis.

HAT is daar vir die volle Afrikaanse taalgemeenskap: vir almal wat in en met Afrikaans op reis is. Van Parow tot Polokwane, van Keimoes tot Kokstad: met die HAT in die hand, kom jy deur die hele land.

Rufus Gouws by die mediabekendstelling van HAT6 op 25 Junie

2015-06-30

HAT6 vier Afrikaans in al sy verskeidenheid

Geen natuurlike taal is in alle opsigte ’n eensoortige ding wat in alle omstandighede deur alle moedertaalsprekers op dieselfde manier gebruik word nie. Daar is verskillende vorme van die betrokke taal, wat variëteite genoem word. Die variëteite is die vorme van die taal wat byvoorbeeld in sekere streke gebruik word, of deur sekere groepe, of in sekere omstandighede en so meer. Een van die variëteite van gestandaardiseerde tale is die sogenaamde standaardvariëteit. Dit geld ook Afrikaans: Die standaardvariëteit word Standaardafrikaans genoem, maar daar is ook talle niestandaardvariëteite. Daar is byvoorbeeld gebruikersgroepvariëteite soos Tienerafrikaans, Griekwa-afrikaans of Vissermansafrikaans, of streeksvariëteite soos Weskusafrikaans, Kaapse Afrikaans (Kaaps) of Namakwalandse Afrikaans, of gebruiksvariëteite soos Skryftaalafrikaans, Radioafrikaans of Kanselafrikaans, en so meer.

Standaardafrikaans behoort nie aan, of is nie die variëteit van, enige bepaalde groep of streek nie. Eenvoudig gestel is dit die variëteit wat die grootste mate van standaardisering toon, deur die grootste moontlike groep van Afrikaanssprekendes verstaan word, die minste verraai waarvandaan of uit watter groep die gebruiker kom en die beste geskik is vir sekere min of meer formele situasies of omstandighede. Standaardafrikaans (of die standaardvariëteit van ’n ander taal) sal ’n mens tipies aantref in byvoorbeeld handboeke, lesings, toesprake, die howe, standaardwoordeboeke, hoofstroomkoerante, wetgewing, werksonderhoude en so meer. Daarteenoor kan ’n mens die taal wat gemoedelik tussen vriende of gelykes in informele omstandighede gebruik word, geselstaal of omgangstaal noem.

Standaardafrikaans is nié “beter” of “meer korrek” as ’n ander variëteit nie, want elke variëteit vervul die rol waarvoor hy ontstaan het. ’n Mens kan alleen sê dat een variëteit in bepaalde situasies dalk meer geskik of gepas is as ’n ander. In byvoorbeeld ’n brief aan jou werkgewer of ’n aansoek om ’n betrekking of ’n wetenskaplike artikel is die standaardvariëteit meer gepas as die taal wat jy gebruik om op die sosiale media met jou vriende te gesels, of as jy saam met vriende by die sportveld is of vleis braai.

Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal is veral gemoeid met Standaardafrikaans, maar ons vier Afrikaans in sy volle verskeidenheid.

Tom McLachlan en Jana Luther