2012-12-03

Askoek!


 
 
Saterdagaand saam met Lise die eindrondte van die jaarlikse rieldanskompetisie by die Paarlberg-amfiteater bygewoon. Wat ’n belewenis! Hier het jy die uitdrukking van ’n stuk kultuur wat blykbaar in die middel van die vorige eeu al aan die uitsterf was. Springlewendig en perdfris! En dis nie net die outjies wat rieldans nie hoor, o nee. Kjennertjies wat nie ouer as sewe of agt gelyk het nie, het ook kom saamdans dat die stof sommer sukke bollings staan. Letterlik – daar’s stofsand gestrooi op die verhoog vir die effek. Wat ’n uitbundigheid en ’n lus vir die lewe. Van oraloor het die dansgroepe gekom, van Witzenberg hier naby, van Ceres en Wuppertal, van die Knersvlakte en nog verder noord, diep uit die Karoo.

Die ATKV verdien voorwaar ’n pluimpie vir hul pogings. Kom ons wees nou maar eerlik: van oudsher was die ATKV geassosieer met volksdanse en jukskei, ’n vertakking van die Christelike Nasionalisme. Maar met die rieldanskompetisie het hulle hulself omskep in ’n kulturele organisasie wat die essensie van ons Reënboognasie nastreef. Welgedaan!

Die Khoi en hul nasate het sedert die 17de eeu maar nog altyd aan die agterste speen moes suig. Die Nederlandse en Britse koloniale oorheersers het hul hartland geannekseer en hulle verdryf, die Boere het stelselmatig hul weiding afgevat en hulle verslaaf, vir die Nasionaliste was hulle nouliks tweederangse burgers, en die ANC het ook nie vreeslik erg aan hulle nie. Voortdurend ’n miskende volk dus.

Maar met iets soos die rieldanskompetisie is daar ’n kans op herlewing en identiteit, nie net by die ouer geslag wat onthou hoe dit was nie, maar ook by die jonger geslag wat dit van nuuts af beleef. ’n Bemoedigende en positiewe ervaring, iets wat mens met hoop vir ons seerkryland vervul.

Die nimlike Elias Nel, taal- en kultuurkenner, was die seremoniemeester, en Dawid Kramer het ook drie liedjies kom sing. Interessant, as mens die rieldans en Kramer se liedjies op dieselfde verhoog ervaar, is dit duidelik waar hy baie van sy inspirasie gekry het. Ook sy alombekende kostuum – die hoedjie, die onderbaadjie, die wye los broek en, les bes, die rooi vellies!

Die foto hierbo is van ’n rondte vroeër die jaar, maar dit gee ’n goeie idee van wat ons Saterdagaand meegemaak het. ’n Video van verlede jaar se finaal is hier.


2012-11-08

Taal en die media

Elke jaar versamel die Nederlandse Taalunie inligting oor ’n bepaalde onderwerp: meertaligheid, taalvariasie, onderwys, lees, taalgebruik, taalbelewing ...

Vanjaar was die tema Nederlands en die media. Want of ’n mens nou daarvan bewus is of nie: jou “moedertaal” leer jy nie nét van jou ouers en op skool nie. Die massamedia: die TV-programme waarna ons kyk, die radioprogramme waarna ons luister, die koerante en tydskrifte wat ons lees, advertensies, reklameboodskappe, die internet, sosiale media; dit alles beïnvloed – oor ’n lang tyd – hoe ons ons moedertaal gebruik.

Blaai deur koerante, tydskrifte van slegs ’n paar dekades gelede, en dit val reeds op: Is jy vyftig? Dan skryf jy klaar nie meer soos toe jy twintig, dertig was nie; skryf jy lankal nie meer soos jou ouers nie, beslis nie soos jou grootouers of grootjies nie. Net soos jou kinders nie (gaan) skryf soos jy nie. Luister na radioprogramme uit vervloë dae, kyk na ou TV-programme. Klink jou moedertaal vandag nog so? Gaan jou kinders, oor twintig, dertig, veertig jaar, Afrikaans soos Riaan Cruywagen praat?

Soos die son wat opkom en ondergaan oor ’n wêreld wat heeltyd verander, is taalverandering ’n gegewe. Hoe gaan die media daarmee om? Hoe moet die media daarmee omgaan? Moet koerante en tydskrifte, radio, televisie, wat taal betref, steeds aan hulle lesers en luisteraars ’n “goeie”, “navolgenswaardige” voorbeeld probeer stel? Of moet ons gewoon die taalgebruik van ons lesers navolg?

Hoe dink koerantlesers, radioluisteraars, televisiekykers sélf hieroor?

In Taalpeil 2012—2013, ’n kleinformaatkoerant van 8 bladsye waarvan daar pas ’n oplaag van 400 000 eksemplare gedruk is, word verslag gedoen van onlangse onderhoude met taalwerkers: joernaliste, omroepers, adverteerders, programmakers, webmeesters ... in Nederland en in België.

In dieselfde blad word die resultate bekend gemaak van ’n peiling, deur Trendbox B.V., van 800 Nederlanders en Vlaminge se menings oor hoe hulle taal vandag in koerante, oor die radio, op TV en in die sosiale media gebruik word en, volgens hulle, gebruik behoort te word.

Lees ’n mens die opsommings van die onderhoude wat gevoer is, raak dit gou duidelik dat program- en koerantredakteurs in Vlaandere en in Nederland dit oor ’n huisstyl nie heeltemal eens is nie:

Ruud Hendrickx, hoofredakteur van die Grote Van Dale en taaladviseur van die openbare uitsaaier in Vlaandere, staan vir nuusuitsendings en ontspanningsprogramme ’n “aantreklike, duidelike, korrekte standaardtaal” voor “wat afgestem is op die kykers en luisteraars”. Presies hoe so ’n korrekte standaartaal moet klink? Hoe dit op die kyker afgestem moet word? Nou ja. Dit val op dat die taalgebruik van (Vlaamse) inbellers na geselsprogramme dikwels ietwat anders op die oor val as die gebruik en uitspraak van (Vlaamse) nuuslesers en die aanbieders van (Vlaamse) joernaalprogramme.

Koerantredaksies in Vlaandere skyn dit met Hendrickx eens te wees. Vlaamse joernaliste, met wie ’n joernalistiekstudent, Sandra van den Boer, onderhoude gevoer het, meen lesers het minder vertroue in ’n koerant wat slordig met taal omgaan (en oor taalfoute in die koerant skryf getroue lesers kwaai briewe en e-posse aan die redakteur). Vlaamse verslaggewers voel hulle behoort steeds vir lesers ’n taalvoorbeeld te stel. Hulle gebruik die dikke Van Dale getrou, let nougeset op spelling en probeer woorde en stelwyses wat lesers as verkeerd mag aanvoel, vermy.

Tog glip daar ook baie foute deur die net.

’n Ander student, Els Belsack, het die taalbeleid in Vlaandere met die beleid van koerante in Nederland vergelyk – en gevind sowel Vlaamse as Nederlandse redaksies stel twee dinge voorop: toeganklikheid en helderheid.

Maar: Terwyl die Vlaminge steeds besonder gesteld is op “korrekte taalgebruik” en aan hulle lesers ’n navolgenswaardige voorbeeld wil stel, is daar by hulle Nederlandse eweknieë ’n groter gewilligheid te bespeur om “taalvernuwing” toe te laat. In Nederland word daar, volgens Belsack, “kreatiewer” met die taal omgegaan, en minder moeite gedoen om vreemde (Engelse) woorde te vermy.

Nederlandse koerante probeer dus toenemend die taalwerklikheid van hulle lesers weerspieël – die NRC Handelsblad, byvoorbeeld, maak geen geheim daarvan dat hy die voorbeeld van sy lesers navolg nie – en woorde wat voorheen vermy is, verskyn vandag gereeld in die koerant.

In Nederland, lyk dit dus, is joernaliste nie soseer meer daarop uit om ’n goeie taalvoorbeeld te stel nie; hulle ag dit belangriker om só te werk dat lesers hul boodskap goed begryp. Die eindredakteurs van koerante vra hulle verslaggewers om so “toeganklik” moontlik te skryf; eenvoudige, kort sinne te formuleer; die lydende vorm ten alle koste te vermy; van vreemde woorde weg te bly; bysinne te gebruik slegs as hulle kort is; geen ongewone/onbekende uitdrukkings te kies nie; kort, kragtige, konkrete koppe te bedink ... Sodat skeptici begin vra of koerante in hulle strewe na helderheid elke fyn nuanse uit hul berigte wil filtreer; of álles wérklik en volledig in eenvoudige taal uitgelê kán word; of gewildheid en gehalte áltyd hand aan hand gaan ...

Is ’n teks met langer sinne, ’n paar moeilike(r) woorde werklik minder aantreklik as ’n teks tot op die been toe vereenvoudig?

’n Ou Nederlandse uitdrukking lui: “Die koerant is ’n meneer – die koerant het gesag en weet hoe dit hoort”. Dink koerantlesers in Nederland en België vandag nóg so? Wil hulle stééds hê hul koerante moet – ook wat taalgebruik betref – die toon aangee?

Dit lyk tog so.

Van al die respondente wat in die pas afgelope peiling aangedui het dat hulle minstens een keer per week ’n koerant lees, het altesame 93 persent aangedui hulle verwag steeds van hul koerant om, wat taalversorging betref, ’n voorbeeld te stel. Die meeste van die respondente, 83 persent in Nederland en 86 persent in Belgie, meen ook nuuslesers behoort, wat taalgebruik en uitspraak betref, vir hulle luisteraars rolmodelle te wees.

Oor die algemeen is dieselfde mense darem ook min of meer tevrede dat hulle koerante en omroepers wel nog aan hierdie vereistes voldoen.

Ook maar goed, want meer as 80 persent van al die deelnemers het aangedui dat taalfoute hulle ernstig grief, en 65 persent dat opvallende taalflaters hulle só die josie in maak dat hulle ’n koerant as gevolg daarvan in die toekoms beslis minder ernstig sal opneem.

Veertig persent van die lesers wat by die ondersoek betrek is, het gekla dat koerante in hul beriggewing dikwels ’n te sensasionele toon aanslaan. En 30 persent het beswaar aangeteken teen die gebruik van Engelse woorde.

Taalpeil 2012—2013 en die volledige ondersoekverslag kan van die webblad van Taaluniversum afgelaai word.

Iemand dalk lus om ’n soortgelyke ondersoek na Afrikaans en die media aan te pak?

2012-11-05

Transliterasie: ’n komplekse saak

Deur Tom McLachlan

Mnr. Behr het gelyk dat transliterasie ’n doring in taalpraktisyns se vlees is, maar ek dink tog onderstaande blog is ’n bietjie simplisties. In werklikheid is transliterasie ’n uiters komplekse saak wat nie net ’n veelheid van tale en alfabette behels nie, maar ook die verskillende soorte woorde/name wat ter sprake is en die tyd van “ontlening” (hoe lank gelede is dit vir die eerste maal getranslitereer, en hoe gevestig het die betrokke transliterasie geraak?).

Eerstens het mnr. Behr dit hier slegs oor transliterasie uit die Cyrilliese alfabet, terwyl daar verskeie ander alfabette is waaruit ons ook (moet) translitereer. ’n Mens hoef maar net te dink aan die Oosterse tale van die lande waarmee Suid-Afrika groeiende handelsbetrekkinge het. Een van die mees problematiese tale is Chinees, waarvan die amptelike weergawe in die Romeinse alfabet weinig ooreenkoms met die uitspraak toon.

En terwyl ons van die Cyrilliese alfabet praat: Dit is nie korrek om te sê dat Afrikaans geen transliterasiestelsel het nie. Sedert 2002 (9de uitgawe) bevat die AWS ’n volledige transliterasietabel vir die Cyrilliese alfabet. Dit bevat nie net die Cyrilliese hoof- en kleinletters nie, maar ook die uitspraak van elk in fonetiese simbole, die weergawes daarvan in Afrikaans en Engels, en voorbeelde van algemene name waarin die betrokke letter voorkom, in Russies, Engels en Afrikaans. Daar is ook ’n stel toeligtende voetnote wat sake verder verhelder.

Dit is so dat ons meestal met “nuwe” buitelandse name (hetsy persoons- of geografiese eiename) kennis maak via Engels of ’n ander Europese taal. Daarom sou elke taal wat ’n naam volgens sy eie reëls wil weergee, eers moet weet hoe Brontaal 2 (die min of meer bekende Europese taal) te werk gaan om die betrokke naam uit Brontaal 1 (die oorspronklike taal wat nie die Romeinse alfabet gebruik nie) te translitereer. ’n Mens moet ook weet of die naam ’n geografiese eienaam of ’n persoonseienaam (of dalk ’n soortnaam) is.

In die geval van persoonseiename kan ’n mens eenvoudig nie die Afrikaanse weergawe van lank gevestigde name, soos “Tsjechof” of “Tsjaikofski” ignoreer nie, en in die geval van mense wat hulle in die Weste gevestig het en ’n Westerse spelling van hulle name aangeneem het, byvoorbeeld “Nureyev”, gaan ’n mens die naam net so min translitereer as wat jy “Bush” sou verander in “Boesj”. Wat geografiese eiename betref, is daar natuurlik eweneens lank gevestigde Afrikaanse weergawes van name waaraan ’n mens ook nie sonder meer gaan torring nie (hoekom nou aan “Moskou” gaan staan en verander?). Terselfdertyd is die VN besig om ’n stel internasionaal gestandaardiseerde name te ontwikkel wat in alle tale wat die Romeinse alfabet gebruik, dieselfde kan wees. Bowendien het seker lande wat ’n nie-Romeinse alfabet gebruik (bv. Japan), ’n amptelike inheemse spelling in die Romeinse alfabet, wat eweneens in ag geneem moet word.

Wat die klank [tS] betref, kan mnr. Behr gerus na reël 11.21 in die jongste AWS kyk, waar aangedui word dat dié klank op vier maniere voorgestel kan word.

Wat die voorstel van g vir [x] betref, moet ’n mens daarop wys dat die letter slegs in Nederlands (in sommige omgewings) as stemlose velêre frikatief gebruik word, en in leenwoorde uit die oorgrote meerderheid ander tale (insluitende Duits) in Afrikaans die klankwaarde “gh” het. Daarenteen bestaan daar reeds ’n lank gevestigde tradisie dat "ch" (soos in “Bach” en “loch”) die stemlose frikatief verteenwoordig. Die gebruik van “kh” in Engels is juis omdat daardeur ’n benaderde klank ('n geaspireerde k) voorgestel word wat veronderstel is om die [x] verteenwoordig – ons ken almal die Britse Engelsman se onvermoë om ’n [x] te sê. Om in die geval van g telkens ’n gh te wil skryf, en slegs vir Russies ’n g as ekwivalent van die Russiese [x] te gebruik, sal eerder verwarring skep, aangesien g in leenwoorde uit die meeste ander tale die waarde van “gh” het. Miskien moet mnr. Behr die bylae in die AWS oor transliterasie uit die Cyrilliese alfabet weer ’n slag deeglik deurlees, aangesien daar motiverings verstrek word vir keuses soos dié.

Hoewel dit dus lekker sou wees om ’n transliterasiestelsel te hê wat ’n mens probleemloos in alle gevalle kan toepas, dink ek nie dit is ’n realistiese moontlikheid nie. Daar is eenvoudig te veel veranderlikes.

Tom McLachlan is voorsitter van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die amptelike liggaam vir die standaardisering van Afrikaans.

2012-11-02

Die transliterasie-chochcha

Deur Burgert Behr

Transliterasie – die doring in die meeste Afrikaanse teksredakteurs se vlees, daardie veertienletterwoord wat selfs baie gesoute taalversorgers laat sweet. In so ’n mate dat die meeste Afrikaanse media blykbaar nou Engelse spellings gebruik, buiten reeds bekende name soos Gorbatsjof. Hoekom kan transliterasie net nie inslag vind in Afrikaans nie en gee ons nou maar boedel oor onder aanslag van Engels? Hensop, om dit so te stel.

Een van die vrae wat seker die meeste gevra word, is: Hoe kan ’n “kh” in Engels ’n “ch” in Afrikaans word? Dit behoort andersom te wees – ’n “c” behoort ’n “k” te word. En hoe spreek ’n mens dit uit – as ’n “k”? Waar kom die spelling “tsj” vandaan? Ons skryf tog tjek, tjips, tjoekie, tjank . . . Of is ’n “ch” eintlik ’n “tj” en ’n “tsj” iets anders?

Dit lyk my die antwoord is baie eenvoudig: Afrikaans het geen transliterasiestelsel nie; ons het die (ou) Nederlandse stelsel net so oorgeneem. “Ch” en “tsj” is Nederlandse spellings en volksvreemd hier aan die suidpunt van Afrika.

Nederlands het ’n paar jaar gelede sy transliterasiestelsel aangepas. Hulle skryf nie meer “f” of “w” nie, maar “v”; nie meer “oe” nie, maar “u”.

Is dit nie vir ons ook tyd om te besin en ’n transliterasiestelsel te skep wat dalk groter inslag sal vind by Afrikaanssprekendes nie? Dis dalk tyd om “g” te skryf in plaas van “ch”, “tj” in plaas van “tsj” en “gh” in plaas van “g”. Dalk verstaan en aanvaar ons Groesjtjof beter as Chroesjtsjof. Tjegof beter as Tsjechof. Tjetjnië beter as Tsjetsjnië. Ghorbatjof beter as Gorbatsjof. (Ons skryf immers om die een of ander rede Ghaddafi, hoewel dit volgens ons reëls eintlik Gaddafi behoort te wees.)

Daar is natuurlik ook die negatiewe kant. Ons gaan sit met ’n spelling soos Ghagharin. Maar kan ons Joeri nie maar opoffer ter wille van die behoud van Afrikaanse transliterasie nie?

Burgert Behr is eindredakteur van Huisgenoot en ’n kenner van Russies.

2012-10-30

Op moedverloor se verbleekte vlakte

Deur Gerhard van Huyssteen

Of dit die veranderinge van seisoene is en of dit te make het met sy verhouding met die verkeer op die N1 in Johannesburg, dié weet ek nie. Maar 'n vriend van my bevind hom, triestig genoeg, op moedverloor se vlakte.

Toe ek dié Afrikaanse idioom te lyf loop, begin ek naarstiglik te google. 86 300 treffers vir moedverloor! En so vind ek die plaas Moedverloor iewers tussen êrens en nêrens in die Noord-Kaap; om presies te wees: breedtegraad -31.466667, lengtegraad 18.416668. (Foto deur Christo Doherty.)

Ons moet dus na regte eintlik "op Moedverloor se vlakte" skryf. Vanwaar dan, liewe Gehasi, die kleinlettertjie? Deur eienaamverbleking gebruik ons dikwels 'n woord as 'n gewone woord, terwyl dit eintlik oorspronklik 'n plek- of persoonsnaam was. Dink byvoorbeeld aan adonisse soos Brad Pitt, Johnny Depp, Ryk Neethling (wag, ek dwaal), of amasones soos G.I. Jane, Wonder Woman of ons eie nimlike Winnie Madikizela-Mandela (wag, ek dwaal vêr af). Beide Adonis en Amasone is oorspronklik eiename uit die Griekse mitologie, maar vandag gebruik ons die woorde adonis en amasone meestal as gewone woorde.

Een woord of twee woorde? Ek sal my vriend uiteraard aanraai dat hy nie moet moed verloor nie, maar wanneer hy hom tog op dié vlaktetjie bevind, dan is sy moedverloor uiteraard betreurenswaardig. 'n Mens sou dus rustig kon wonder oor die juistheid van die skryfwyse van die titel van Isak de Villiers se boek Te vroeg vir moedverloor – tensy hy natuurlik bedoel het dat jy te vroeg is vir Moedverloor, maar dat die winkeltjies tog al oop sal wees teen die tyd wat jy Koekenaap bereik. (Nog 'n pleknaam wat, uhm, wawyd oop is vir giggelrige interpretasies.)

En as 'n geskiedskrywer op die WWW goedsmoeds beweer dat "die Voortrekkers in Natal letterlik op moedverloor se vlakte was", dan wonder ek stotterend of ek nie my vriend liewer moet aanraai om voortaan die N7 te gebruik nie.

2012-10-25

'n Tyd om te blog

Ek betrap my deesdae dikwels dat ek na die “Impact of Social Sciences”-blog van die London School of Economics and Political Science (LSE) verwys. Veral na ’n bydrae van Patrick Dunleavy en Chris Gilson. Op 14 Februarie 2012 skryf hulle hier dat om te blog eenvoudig een van die belangrikste dinge is wat ’n akademikus op die oomblik behoort te doen.

Gilson en Dunleavy wys in sowat 3 000 woorde op ’n nuwe paradigma van navorsingskommunikasie wat wasdom bereik het – ’n benadering wat eendersyds minder klem plaas op die tradisionele roete van publikasie in vaktydskrifte en andersyds sterk gerig is op akademiese kommunikasie waarin blogs ’n belangrike tussen- of oorgangsrol speel. Via Twitter-, Facebook- en Google+-nuuslyste maak blogs op populêr-wetenskaplike wyse aktuele navorsingsverslae en -artikels onmiddellik toeganklik vir wie ook al daarin belangstel of toevallig daarop afkom. Vinnig en gratis.

Want, beklemtoon die skrywers, en nou haal ek hulle liewer direk aan: “[S]ocial scientists have an obligation to society to contribute their observations to the wider world – and at the moment that’s often being done in ramshackle and impoverished ways, in pointlessly obscure or charged-for forums, in language where you need to look up every second word in Wikipedia, with acres of ‘dead-on-arrival’ data in unreadable tables, and all delivered over bizarrely long-winded timescales. So the public pay for all our research, and then we shunt back to them a few press releases and a lot of out-of-date academic junk.”

Hoe ver hierdie stelling, wat betref Afrikaans en die Afrikaanse taalkunde, van die kol af is, dit sal ek nie kan sê nie. Ek hoop gasskrywers sal dit op hierdie blog duidelik kom uitstippel.

Wat ek wel weet, is dat daar in die gedrukte Afrikaanse media omtrent geen gereelde taalrubriek meer verskyn nie. Die Afrikaanse Taalkommissie het wel ’n blad op Facebook, maar ongelukkig nog slegs ’n robotstem op Twitter. Op RSG is daar Sondagoggende ’n halfuur lange taalprogram. LitNet lewer van tyd tot tyd belangrike bydraes. Maar vergeleke met die gehalte van die gesprek (nie oor politiek nie maar oor taal) tussen taalkundiges en taalbelangstellendes in, sê nou maar, Nederland, is bogenoemde maar enkele oorblywende druppels in die emmer.

Na ’n Afrikaanse taalkundige of twee, ’n Afrikaanse taalgesprek, soek ’n mens op Twitter min of meer vergeefs (soos trouens na die meeste ander Afrikaanse akademici, van watter vakgebied ook al). Indien hulle daar is, in Afrikááns daar is, is dit soos om die spreekwoordelike naald in ’n hooimied te kry.

Afrikaanse taalkundiges skryf nie (in elk geval nie meer dikwels) vir koerante en tydskrifte nie – hulle word waarskynlik nie meer gereeld die kans gegun nie (bydraes oor taal lok nie adverteerders nie). Maar hulle Facebook ook nie eintlik nie. Hulle twiet beslis nie. En veral: Hulle blog nie. Hulle reis na kongresse, lewer referate, voer gesprek met mekaar, en skryf artikels vir akademiese tydskrifte, wat Jan Alleman, taalonderwysers, potensiële studente en ander, helaas, nie lees of eens van bewus is nie.

As ons dié ou, tradisionele maniere van doen voortsit; jare lank ten duurste navorsing doen oor verskillende moontlike maniere van elektronies werk in die toekoms, maar dan verleërig die skouers ophaal en nie self die bul by die horings pak nie, nie self – met mening – die kennisera waarin ons rééds leef, betree nie ... As ons nie op die hoogte bly en van dag tot dag probeer tred hou met die ontploffing van opvoedkundige tegnologie nie ... Kan ons dan regtig nog daarop roem dat ons ons huidige studente goed genoeg voorberei om in die toekoms in Suid-Afrika papierloos met taal om te gaan?

Taalpolitiek laat oudergewoonte die tonge klap, maar slaag ons daarin (en dáárdeur) om gewone Afrikaanse taalonderwysere en -leerders se belangstelling, nie net in die letterkunde nie, maar ook nog in die plesiere van die taalkunde sélf te prikkel? Slaag ons genoegsaam daarin om nuwe, jong taalkundiges vir Afrikaans te werf? Hoeveel finalejaar- en nagraadse studente wat op Afrikaans (en spesifiek Afrikaanse taalkunde) fokus, is daar vandag aan alle universiteite, plaaslik en in die buiteland, gesamentlik? Ek weet nie.

Op watter maniere gee ons aan onderwysers en leerders en studente en taalwerkers en die breë publiek insae in wát taalkundiges en taalkenners vandag in Suid-Afrika doen en in hóé hulle te werk gaan? Is dit ’n wát en ’n hóé wat by Afrikaanssprekende Suid-Afrikaanse kinders wat in die nuwe millennium grootword, (nog) geesdrif (sal) wek? Is dit beste praktyke wat tred gehou het met en bly tred hou met die tyd waarin ons leef?

Hoe bewerkstellig en behou ons studente se entoesiasme vir taal(kunde), en spesifiek vir Afrikaans, terwyl ons hulle oplei? Verlaat hulle ons skole en kampusse behoorlik toegerus vir werk met taal in Suid-Afrika, behoorlik ingelyf by ’n breër, papierlose taalgemeenskap sonder grense?

Ek weet nie.

Ek hoop ons sal daarvan op hierdie blog ’n glimp kry.