2012-11-08

Taal en die media

Elke jaar versamel die Nederlandse Taalunie inligting oor ’n bepaalde onderwerp: meertaligheid, taalvariasie, onderwys, lees, taalgebruik, taalbelewing ...

Vanjaar was die tema Nederlands en die media. Want of ’n mens nou daarvan bewus is of nie: jou “moedertaal” leer jy nie nét van jou ouers en op skool nie. Die massamedia: die TV-programme waarna ons kyk, die radioprogramme waarna ons luister, die koerante en tydskrifte wat ons lees, advertensies, reklameboodskappe, die internet, sosiale media; dit alles beïnvloed – oor ’n lang tyd – hoe ons ons moedertaal gebruik.

Blaai deur koerante, tydskrifte van slegs ’n paar dekades gelede, en dit val reeds op: Is jy vyftig? Dan skryf jy klaar nie meer soos toe jy twintig, dertig was nie; skryf jy lankal nie meer soos jou ouers nie, beslis nie soos jou grootouers of grootjies nie. Net soos jou kinders nie (gaan) skryf soos jy nie. Luister na radioprogramme uit vervloë dae, kyk na ou TV-programme. Klink jou moedertaal vandag nog so? Gaan jou kinders, oor twintig, dertig, veertig jaar, Afrikaans soos Riaan Cruywagen praat?

Soos die son wat opkom en ondergaan oor ’n wêreld wat heeltyd verander, is taalverandering ’n gegewe. Hoe gaan die media daarmee om? Hoe moet die media daarmee omgaan? Moet koerante en tydskrifte, radio, televisie, wat taal betref, steeds aan hulle lesers en luisteraars ’n “goeie”, “navolgenswaardige” voorbeeld probeer stel? Of moet ons gewoon die taalgebruik van ons lesers navolg?

Hoe dink koerantlesers, radioluisteraars, televisiekykers sélf hieroor?

In Taalpeil 2012—2013, ’n kleinformaatkoerant van 8 bladsye waarvan daar pas ’n oplaag van 400 000 eksemplare gedruk is, word verslag gedoen van onlangse onderhoude met taalwerkers: joernaliste, omroepers, adverteerders, programmakers, webmeesters ... in Nederland en in België.

In dieselfde blad word die resultate bekend gemaak van ’n peiling, deur Trendbox B.V., van 800 Nederlanders en Vlaminge se menings oor hoe hulle taal vandag in koerante, oor die radio, op TV en in die sosiale media gebruik word en, volgens hulle, gebruik behoort te word.

Lees ’n mens die opsommings van die onderhoude wat gevoer is, raak dit gou duidelik dat program- en koerantredakteurs in Vlaandere en in Nederland dit oor ’n huisstyl nie heeltemal eens is nie:

Ruud Hendrickx, hoofredakteur van die Grote Van Dale en taaladviseur van die openbare uitsaaier in Vlaandere, staan vir nuusuitsendings en ontspanningsprogramme ’n “aantreklike, duidelike, korrekte standaardtaal” voor “wat afgestem is op die kykers en luisteraars”. Presies hoe so ’n korrekte standaartaal moet klink? Hoe dit op die kyker afgestem moet word? Nou ja. Dit val op dat die taalgebruik van (Vlaamse) inbellers na geselsprogramme dikwels ietwat anders op die oor val as die gebruik en uitspraak van (Vlaamse) nuuslesers en die aanbieders van (Vlaamse) joernaalprogramme.

Koerantredaksies in Vlaandere skyn dit met Hendrickx eens te wees. Vlaamse joernaliste, met wie ’n joernalistiekstudent, Sandra van den Boer, onderhoude gevoer het, meen lesers het minder vertroue in ’n koerant wat slordig met taal omgaan (en oor taalfoute in die koerant skryf getroue lesers kwaai briewe en e-posse aan die redakteur). Vlaamse verslaggewers voel hulle behoort steeds vir lesers ’n taalvoorbeeld te stel. Hulle gebruik die dikke Van Dale getrou, let nougeset op spelling en probeer woorde en stelwyses wat lesers as verkeerd mag aanvoel, vermy.

Tog glip daar ook baie foute deur die net.

’n Ander student, Els Belsack, het die taalbeleid in Vlaandere met die beleid van koerante in Nederland vergelyk – en gevind sowel Vlaamse as Nederlandse redaksies stel twee dinge voorop: toeganklikheid en helderheid.

Maar: Terwyl die Vlaminge steeds besonder gesteld is op “korrekte taalgebruik” en aan hulle lesers ’n navolgenswaardige voorbeeld wil stel, is daar by hulle Nederlandse eweknieë ’n groter gewilligheid te bespeur om “taalvernuwing” toe te laat. In Nederland word daar, volgens Belsack, “kreatiewer” met die taal omgegaan, en minder moeite gedoen om vreemde (Engelse) woorde te vermy.

Nederlandse koerante probeer dus toenemend die taalwerklikheid van hulle lesers weerspieël – die NRC Handelsblad, byvoorbeeld, maak geen geheim daarvan dat hy die voorbeeld van sy lesers navolg nie – en woorde wat voorheen vermy is, verskyn vandag gereeld in die koerant.

In Nederland, lyk dit dus, is joernaliste nie soseer meer daarop uit om ’n goeie taalvoorbeeld te stel nie; hulle ag dit belangriker om só te werk dat lesers hul boodskap goed begryp. Die eindredakteurs van koerante vra hulle verslaggewers om so “toeganklik” moontlik te skryf; eenvoudige, kort sinne te formuleer; die lydende vorm ten alle koste te vermy; van vreemde woorde weg te bly; bysinne te gebruik slegs as hulle kort is; geen ongewone/onbekende uitdrukkings te kies nie; kort, kragtige, konkrete koppe te bedink ... Sodat skeptici begin vra of koerante in hulle strewe na helderheid elke fyn nuanse uit hul berigte wil filtreer; of álles wérklik en volledig in eenvoudige taal uitgelê kán word; of gewildheid en gehalte áltyd hand aan hand gaan ...

Is ’n teks met langer sinne, ’n paar moeilike(r) woorde werklik minder aantreklik as ’n teks tot op die been toe vereenvoudig?

’n Ou Nederlandse uitdrukking lui: “Die koerant is ’n meneer – die koerant het gesag en weet hoe dit hoort”. Dink koerantlesers in Nederland en België vandag nóg so? Wil hulle stééds hê hul koerante moet – ook wat taalgebruik betref – die toon aangee?

Dit lyk tog so.

Van al die respondente wat in die pas afgelope peiling aangedui het dat hulle minstens een keer per week ’n koerant lees, het altesame 93 persent aangedui hulle verwag steeds van hul koerant om, wat taalversorging betref, ’n voorbeeld te stel. Die meeste van die respondente, 83 persent in Nederland en 86 persent in Belgie, meen ook nuuslesers behoort, wat taalgebruik en uitspraak betref, vir hulle luisteraars rolmodelle te wees.

Oor die algemeen is dieselfde mense darem ook min of meer tevrede dat hulle koerante en omroepers wel nog aan hierdie vereistes voldoen.

Ook maar goed, want meer as 80 persent van al die deelnemers het aangedui dat taalfoute hulle ernstig grief, en 65 persent dat opvallende taalflaters hulle só die josie in maak dat hulle ’n koerant as gevolg daarvan in die toekoms beslis minder ernstig sal opneem.

Veertig persent van die lesers wat by die ondersoek betrek is, het gekla dat koerante in hul beriggewing dikwels ’n te sensasionele toon aanslaan. En 30 persent het beswaar aangeteken teen die gebruik van Engelse woorde.

Taalpeil 2012—2013 en die volledige ondersoekverslag kan van die webblad van Taaluniversum afgelaai word.

Iemand dalk lus om ’n soortgelyke ondersoek na Afrikaans en die media aan te pak?

No comments:

Post a Comment