2012-11-05

Transliterasie: ’n komplekse saak

Deur Tom McLachlan

Mnr. Behr het gelyk dat transliterasie ’n doring in taalpraktisyns se vlees is, maar ek dink tog onderstaande blog is ’n bietjie simplisties. In werklikheid is transliterasie ’n uiters komplekse saak wat nie net ’n veelheid van tale en alfabette behels nie, maar ook die verskillende soorte woorde/name wat ter sprake is en die tyd van “ontlening” (hoe lank gelede is dit vir die eerste maal getranslitereer, en hoe gevestig het die betrokke transliterasie geraak?).

Eerstens het mnr. Behr dit hier slegs oor transliterasie uit die Cyrilliese alfabet, terwyl daar verskeie ander alfabette is waaruit ons ook (moet) translitereer. ’n Mens hoef maar net te dink aan die Oosterse tale van die lande waarmee Suid-Afrika groeiende handelsbetrekkinge het. Een van die mees problematiese tale is Chinees, waarvan die amptelike weergawe in die Romeinse alfabet weinig ooreenkoms met die uitspraak toon.

En terwyl ons van die Cyrilliese alfabet praat: Dit is nie korrek om te sê dat Afrikaans geen transliterasiestelsel het nie. Sedert 2002 (9de uitgawe) bevat die AWS ’n volledige transliterasietabel vir die Cyrilliese alfabet. Dit bevat nie net die Cyrilliese hoof- en kleinletters nie, maar ook die uitspraak van elk in fonetiese simbole, die weergawes daarvan in Afrikaans en Engels, en voorbeelde van algemene name waarin die betrokke letter voorkom, in Russies, Engels en Afrikaans. Daar is ook ’n stel toeligtende voetnote wat sake verder verhelder.

Dit is so dat ons meestal met “nuwe” buitelandse name (hetsy persoons- of geografiese eiename) kennis maak via Engels of ’n ander Europese taal. Daarom sou elke taal wat ’n naam volgens sy eie reëls wil weergee, eers moet weet hoe Brontaal 2 (die min of meer bekende Europese taal) te werk gaan om die betrokke naam uit Brontaal 1 (die oorspronklike taal wat nie die Romeinse alfabet gebruik nie) te translitereer. ’n Mens moet ook weet of die naam ’n geografiese eienaam of ’n persoonseienaam (of dalk ’n soortnaam) is.

In die geval van persoonseiename kan ’n mens eenvoudig nie die Afrikaanse weergawe van lank gevestigde name, soos “Tsjechof” of “Tsjaikofski” ignoreer nie, en in die geval van mense wat hulle in die Weste gevestig het en ’n Westerse spelling van hulle name aangeneem het, byvoorbeeld “Nureyev”, gaan ’n mens die naam net so min translitereer as wat jy “Bush” sou verander in “Boesj”. Wat geografiese eiename betref, is daar natuurlik eweneens lank gevestigde Afrikaanse weergawes van name waaraan ’n mens ook nie sonder meer gaan torring nie (hoekom nou aan “Moskou” gaan staan en verander?). Terselfdertyd is die VN besig om ’n stel internasionaal gestandaardiseerde name te ontwikkel wat in alle tale wat die Romeinse alfabet gebruik, dieselfde kan wees. Bowendien het seker lande wat ’n nie-Romeinse alfabet gebruik (bv. Japan), ’n amptelike inheemse spelling in die Romeinse alfabet, wat eweneens in ag geneem moet word.

Wat die klank [tS] betref, kan mnr. Behr gerus na reël 11.21 in die jongste AWS kyk, waar aangedui word dat dié klank op vier maniere voorgestel kan word.

Wat die voorstel van g vir [x] betref, moet ’n mens daarop wys dat die letter slegs in Nederlands (in sommige omgewings) as stemlose velêre frikatief gebruik word, en in leenwoorde uit die oorgrote meerderheid ander tale (insluitende Duits) in Afrikaans die klankwaarde “gh” het. Daarenteen bestaan daar reeds ’n lank gevestigde tradisie dat "ch" (soos in “Bach” en “loch”) die stemlose frikatief verteenwoordig. Die gebruik van “kh” in Engels is juis omdat daardeur ’n benaderde klank ('n geaspireerde k) voorgestel word wat veronderstel is om die [x] verteenwoordig – ons ken almal die Britse Engelsman se onvermoë om ’n [x] te sê. Om in die geval van g telkens ’n gh te wil skryf, en slegs vir Russies ’n g as ekwivalent van die Russiese [x] te gebruik, sal eerder verwarring skep, aangesien g in leenwoorde uit die meeste ander tale die waarde van “gh” het. Miskien moet mnr. Behr die bylae in die AWS oor transliterasie uit die Cyrilliese alfabet weer ’n slag deeglik deurlees, aangesien daar motiverings verstrek word vir keuses soos dié.

Hoewel dit dus lekker sou wees om ’n transliterasiestelsel te hê wat ’n mens probleemloos in alle gevalle kan toepas, dink ek nie dit is ’n realistiese moontlikheid nie. Daar is eenvoudig te veel veranderlikes.

Tom McLachlan is voorsitter van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die amptelike liggaam vir die standaardisering van Afrikaans.

No comments:

Post a Comment