2012-10-30

Op moedverloor se verbleekte vlakte

Deur Gerhard van Huyssteen

Of dit die veranderinge van seisoene is en of dit te make het met sy verhouding met die verkeer op die N1 in Johannesburg, dié weet ek nie. Maar 'n vriend van my bevind hom, triestig genoeg, op moedverloor se vlakte.

Toe ek dié Afrikaanse idioom te lyf loop, begin ek naarstiglik te google. 86 300 treffers vir moedverloor! En so vind ek die plaas Moedverloor iewers tussen êrens en nêrens in die Noord-Kaap; om presies te wees: breedtegraad -31.466667, lengtegraad 18.416668. (Foto deur Christo Doherty.)

Ons moet dus na regte eintlik "op Moedverloor se vlakte" skryf. Vanwaar dan, liewe Gehasi, die kleinlettertjie? Deur eienaamverbleking gebruik ons dikwels 'n woord as 'n gewone woord, terwyl dit eintlik oorspronklik 'n plek- of persoonsnaam was. Dink byvoorbeeld aan adonisse soos Brad Pitt, Johnny Depp, Ryk Neethling (wag, ek dwaal), of amasones soos G.I. Jane, Wonder Woman of ons eie nimlike Winnie Madikizela-Mandela (wag, ek dwaal vêr af). Beide Adonis en Amasone is oorspronklik eiename uit die Griekse mitologie, maar vandag gebruik ons die woorde adonis en amasone meestal as gewone woorde.

Een woord of twee woorde? Ek sal my vriend uiteraard aanraai dat hy nie moet moed verloor nie, maar wanneer hy hom tog op dié vlaktetjie bevind, dan is sy moedverloor uiteraard betreurenswaardig. 'n Mens sou dus rustig kon wonder oor die juistheid van die skryfwyse van die titel van Isak de Villiers se boek Te vroeg vir moedverloor – tensy hy natuurlik bedoel het dat jy te vroeg is vir Moedverloor, maar dat die winkeltjies tog al oop sal wees teen die tyd wat jy Koekenaap bereik. (Nog 'n pleknaam wat, uhm, wawyd oop is vir giggelrige interpretasies.)

En as 'n geskiedskrywer op die WWW goedsmoeds beweer dat "die Voortrekkers in Natal letterlik op moedverloor se vlakte was", dan wonder ek stotterend of ek nie my vriend liewer moet aanraai om voortaan die N7 te gebruik nie.

2012-10-25

'n Tyd om te blog

Ek betrap my deesdae dikwels dat ek na die “Impact of Social Sciences”-blog van die London School of Economics and Political Science (LSE) verwys. Veral na ’n bydrae van Patrick Dunleavy en Chris Gilson. Op 14 Februarie 2012 skryf hulle hier dat om te blog eenvoudig een van die belangrikste dinge is wat ’n akademikus op die oomblik behoort te doen.

Gilson en Dunleavy wys in sowat 3 000 woorde op ’n nuwe paradigma van navorsingskommunikasie wat wasdom bereik het – ’n benadering wat eendersyds minder klem plaas op die tradisionele roete van publikasie in vaktydskrifte en andersyds sterk gerig is op akademiese kommunikasie waarin blogs ’n belangrike tussen- of oorgangsrol speel. Via Twitter-, Facebook- en Google+-nuuslyste maak blogs op populêr-wetenskaplike wyse aktuele navorsingsverslae en -artikels onmiddellik toeganklik vir wie ook al daarin belangstel of toevallig daarop afkom. Vinnig en gratis.

Want, beklemtoon die skrywers, en nou haal ek hulle liewer direk aan: “[S]ocial scientists have an obligation to society to contribute their observations to the wider world – and at the moment that’s often being done in ramshackle and impoverished ways, in pointlessly obscure or charged-for forums, in language where you need to look up every second word in Wikipedia, with acres of ‘dead-on-arrival’ data in unreadable tables, and all delivered over bizarrely long-winded timescales. So the public pay for all our research, and then we shunt back to them a few press releases and a lot of out-of-date academic junk.”

Hoe ver hierdie stelling, wat betref Afrikaans en die Afrikaanse taalkunde, van die kol af is, dit sal ek nie kan sê nie. Ek hoop gasskrywers sal dit op hierdie blog duidelik kom uitstippel.

Wat ek wel weet, is dat daar in die gedrukte Afrikaanse media omtrent geen gereelde taalrubriek meer verskyn nie. Die Afrikaanse Taalkommissie het wel ’n blad op Facebook, maar ongelukkig nog slegs ’n robotstem op Twitter. Op RSG is daar Sondagoggende ’n halfuur lange taalprogram. LitNet lewer van tyd tot tyd belangrike bydraes. Maar vergeleke met die gehalte van die gesprek (nie oor politiek nie maar oor taal) tussen taalkundiges en taalbelangstellendes in, sê nou maar, Nederland, is bogenoemde maar enkele oorblywende druppels in die emmer.

Na ’n Afrikaanse taalkundige of twee, ’n Afrikaanse taalgesprek, soek ’n mens op Twitter min of meer vergeefs (soos trouens na die meeste ander Afrikaanse akademici, van watter vakgebied ook al). Indien hulle daar is, in Afrikááns daar is, is dit soos om die spreekwoordelike naald in ’n hooimied te kry.

Afrikaanse taalkundiges skryf nie (in elk geval nie meer dikwels) vir koerante en tydskrifte nie – hulle word waarskynlik nie meer gereeld die kans gegun nie (bydraes oor taal lok nie adverteerders nie). Maar hulle Facebook ook nie eintlik nie. Hulle twiet beslis nie. En veral: Hulle blog nie. Hulle reis na kongresse, lewer referate, voer gesprek met mekaar, en skryf artikels vir akademiese tydskrifte, wat Jan Alleman, taalonderwysers, potensiële studente en ander, helaas, nie lees of eens van bewus is nie.

As ons dié ou, tradisionele maniere van doen voortsit; jare lank ten duurste navorsing doen oor verskillende moontlike maniere van elektronies werk in die toekoms, maar dan verleërig die skouers ophaal en nie self die bul by die horings pak nie, nie self – met mening – die kennisera waarin ons rééds leef, betree nie ... As ons nie op die hoogte bly en van dag tot dag probeer tred hou met die ontploffing van opvoedkundige tegnologie nie ... Kan ons dan regtig nog daarop roem dat ons ons huidige studente goed genoeg voorberei om in die toekoms in Suid-Afrika papierloos met taal om te gaan?

Taalpolitiek laat oudergewoonte die tonge klap, maar slaag ons daarin (en dáárdeur) om gewone Afrikaanse taalonderwysere en -leerders se belangstelling, nie net in die letterkunde nie, maar ook nog in die plesiere van die taalkunde sélf te prikkel? Slaag ons genoegsaam daarin om nuwe, jong taalkundiges vir Afrikaans te werf? Hoeveel finalejaar- en nagraadse studente wat op Afrikaans (en spesifiek Afrikaanse taalkunde) fokus, is daar vandag aan alle universiteite, plaaslik en in die buiteland, gesamentlik? Ek weet nie.

Op watter maniere gee ons aan onderwysers en leerders en studente en taalwerkers en die breë publiek insae in wát taalkundiges en taalkenners vandag in Suid-Afrika doen en in hóé hulle te werk gaan? Is dit ’n wát en ’n hóé wat by Afrikaanssprekende Suid-Afrikaanse kinders wat in die nuwe millennium grootword, (nog) geesdrif (sal) wek? Is dit beste praktyke wat tred gehou het met en bly tred hou met die tyd waarin ons leef?

Hoe bewerkstellig en behou ons studente se entoesiasme vir taal(kunde), en spesifiek vir Afrikaans, terwyl ons hulle oplei? Verlaat hulle ons skole en kampusse behoorlik toegerus vir werk met taal in Suid-Afrika, behoorlik ingelyf by ’n breër, papierlose taalgemeenskap sonder grense?

Ek weet nie.

Ek hoop ons sal daarvan op hierdie blog ’n glimp kry.