2013-05-12

Om te sing soos jy gebek is


In September 2009 het ek by die Roots-konferensie – ’n “Suid-Afrikaans-Nederlandse dialoog oor die dinamika van taal, kultuur en erfenis” by die Universiteit van die Wes-Kaap – geluister hoe Mundia Karaan vertel van die totstandkoming van die Stem van die Kaap-gemeenskapsradiostasie vyftien jaar tevore.

Hoewel Afrikaans daagliks gepraat word in die (hoofsaaklik Moslem)gemeenskap wat die uitsaaier bedien, het polities bewuste luisteraars in die verlede al hoe verder wegbeweeg van Afrikaans – as gevolg van die rol daarvan in die apartheidsbestel, onder meer as verpligte taal van onderrig in skole.

Maar dié toedrag was aan die verander ...

In 2008 het die Stem van die Kaap ’n meningsopname gehou om luisteraars se taalvoorkeure te bepaal. In daardie stadium het die stasie 60 persent in Engels, 30 persent in Afrikaans en 10 persent in ander tale, Xhosa en Oerdoe, uitgesaai.

Byna 80 persent van die inbellers wat aan die meningspeiling deelgeneem het, het aangedui hulle wou graag 20 persent meer Afrikaans op die lug hoor. Van die aanlyn luisteraars wat geantwoord het, oor die algemeen meer professionele mense, wou 36,8 persent hê die Afrikaanse uitsaaityd moes verleng word.

’n Nuwe waardering vir Afrikaans was te bespeur: “Mag ons nooit vergeet nie,” sê Mundia, “dat die eerste Afrikaanse manuskrip ’n Koran was. [...] Ons hoef nooit skaam te voel oor ons eie unieke vorm van Afrikaans nie. Dit is wie ons is. Ons is trots daarop.”

Dat Afrikaans nie langer op die mond geval is nie, word bevestig deur die 2011-sensusstatistieke, asook ’n mediaverklaring wat die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rassebetrekkinge verlede maand uitgereik het: Afrikaans is g’n “wit taal” meer nie. 6,9 miljoen mense in Suid-Afrika praat Afrikaans by die huis. Van hierdie sprekers van Afrikaans is net 2,7 miljoen (slegs 40 persent) wit.

Soos in baie lande word Engels ook hier toenemend die taal van onderrig. Maar in woonbuurte reg oor Suid-Afrika – op voetsoolvlak – vloei Afrikaans, in al sy variëteite en registers, toenemend sonder skroom.

Kom. Luister. So klink Afrikaans vandag. En so.

Ook so, en so ...

Viva Afrikaans. Viva!


(Hierdie inskrywing het oorspronklik op Neder-L, Elektronisch tijdschrift voor de neerlandistiek verskyn.)

2013-01-16

Ons is nie (meer) alleen nie

Die verhaal van vroeë woordeboekmakers, en hoe woordeboeke in die moderne tyd geleidelik ontwikkel het, is ’n boeiende verhaal, want dit handel oor kleurryke, selfs hoogs eksentrieke individualiste.

Een van die grootste stappe vooruit was die verskyning in 1755 van Samuel Johnson se eerste, omvattende verklarende woordeboek van die Engelse taal – ’n eenmanspoging van ’n “harmless drudge, that busie[d] himself in tracing the original and detailing the signification of words”.

Seker die beroemdste Engelse leksikograaf, die asketiese Skot James Murray, het ’n lewe lank met miljoene der miljoene indekskaartjies – later ’n hele skuur vol – die Oxford English Dictionary tot stand gebring.

In die 1980’s het die leksikografie ’n tweede fase binnegegaan, toe korpusleksikografie by onder meer die Universiteit van Birmingham ontwikkel is.

Al langer as twee dekades word die verteenwoordigende vorme van tale, soos hulle algemeen geskryf en gepraat word, bepaal met behulp van woordelyste en frekwensietellings en konkordansies uit reuse elektroniese korpusse van eietydse taalgebruik.

Nou betree ons ’n volgende tydvak: ’n fase waarin die internet en sosiale media woordeboekmakers regstreeks, in reële tyd, met taalgebruikers self, tot in die verste uithoeke, verbind – gebruikers van die taal wat sonder dat hulle dit self eens mooi besef, dalk draers van kosbare, verborge woordleidrade is.

Die volgende gesprek oor ’n Afrikaanse slengwoord op Facebook het dit vandag aan my geïllustreer.

Dit maak my opgewonde.

2013-01-12

Neologismes (Deel 2)

’n Seeskilpad lê ’n klomp eiers, maar slegs ’n hand vol van die skilpadjies wat uitbroei, oorleef en bereik volwassenheid. Met nuwe woorde gaan dit dieselfde. Daarom is dit belangrik dat sprekers van Afrikaans nuwe woorde bly skep.

By HAT hoor ons gereeld van gewone taalgebruikers wat nog net so graag soos in die ou dae vir nuwe Engelse woorde Afrikaanse ekwivalente bedink. Wanneer hulle daarin slaag, blom hulle taaltrots. Maar ons hoor ewe gereeld van ’n groeiende persentasie (jong) Afrikaanse mediawerkers wat (om verskeie redes wat aangevoer word) vandag heelwat minder entoesiasties is oor nuutskepping as hulle voorgangers.

Tot in die laat 1990’s het Afrikaanse koerante nog taalrubrieke gehad. In Die Burger was daar bv. “Taalskatkis” wat behartig is deur taalkenners soos wyle prof. Johan Combrink, Johan Spies en J.J.J. (“Trippel J”) Scholtz.

Ek het onlangs weer in Media24 se koerantargiewe gaan kyk na wat Johan Combrink en ander oor nuutskeppings te sê gehad het.

Kyk ons vandag na van die voorbeelde wat in hierdie ou rubrieke uitgelig is, sien ons dadelik dat baie – trouens, die meeste – van die voorstelle van lesers van destyds, onsuksesvol was. Maar gelukkig was daar ook talle pogings wat vandag deeglik ingeburger is in Afrikaans. Woorde soos kitskoffie, buislig, moltrein, hysbak, bromponie, slypskool, e-pos, MIV, vigs ...

Oor fopdosser skryf Combrink destyds: “Die woord staan ook nog nie in ons tweetalige woordeboeke nie. Dit is naamlik ’n blosnuwe neologisme. En ek dink ’n baie geslaagde. ’n Fopdosser is wat in Engels ‘somebody in drag’ genoem word, veral dan ’n man wat vroueklere dra (plus al die ander vroulike by- en toebehore, soos hoëhakskoene en maskara).”

Nou ja, vandag staan fopdosser in ons woordeboeke; dit moet dus aan die vereistes van die FUDGE-toets voldoen het. Maar dalk net-net. Want hoewel ’n mens dié woord nou en dan geskryf sien, vermoed ek die meeste Afrikaanses verkies die Engelse drag queen.

En ons kán en ons mág maar soms woorde by Engels, én by ander tale, gaan leen. As die meeste gebruikers bly lag kry vir toep (meervoud: toeps) en niemand maar niemand, ten spyte van al die baie probeerslae, aan iets beters kan dink nie, bly ’n app (helaas, maar nietemin) ’n app in Afrikaans.

Deur die jare het ons ’n klomp nuttige, nodige woorde by Engels gekry: cottage, deodorant, essay, establishment, franchise, fudge, gay, gentleman, gospel ... Dis nie waar die knoop lê nie. Waaroor ’n mens miskien wel ietwat besorg kan wees, is dat ons al hoe meer verdagte gevalle van kodewisseling teëkom. Nie meer net in die informele spreektaal, en in die taal van jong mense nie, maar veral ook in die formele(r) Standaardafrikaans van talle volwasse sprekers – én skrywers. D.i. woorde waarvoor daar almal een of meer algemeen gebruikte, eietydse Afrikaanse ekwivalente bestaan: brag (spog), casual (informeel, ongeërg), cheeky (astrant), clue (benul, idee), cute (oulik), fine (goed), gut feeling (kropgevoel), happening (gebeurtenis, okkasie), moan (kla), queue (ry, tou), panic, stunning, song, weird, amazing, ... Noem maar op. Om van oorgeklankte Engels – met iets deel, uitmis op, ek doen, ens. – nie te praat nie.

Natuurlik verander tale. Gedurig. Dis ’n normale proses. Weens verskeie faktore wat daarop inwerk, verander hedendaagse Afrikaans dalk net effentjies te vinnig?

Waar anglisismevrees in die verlede dikwels daartoe gelei het dat die baba saam met die badwater uitgegooi is, kan ’n mens dalk aanvoer dat regstellende aksie in dié verband vandag dalk nét té ver gevoer word? Dat gebruikers dalk nie meer altyd so mooi tussen die badwater en die baba kan onderskei nie, of dat ’n gelatenheid ingetree het van “dit help tog nie meer om – in die Engelse wêreld waarin ons leef – teen die prikkels te skop nie”?

Toe Leon van Nierop van RSG my ’n dag of wat gelede vra om Sondag in die program “Die tale wat ons praat” oor neologismes te kom gesels, was dit ’n paar van die gedagtes wat by my opgekom het.

En by HAT besluit ons toe sommer ook om weer ’n slag – soos Die Burger van ouds (maar wat vandag, nes sy susters Beeld, Volksblad en Rapport, lankal nie meer plek het vir rubrieke oor taal nie) – ’n neologisme-kompetisie te hou.

Van Maandag (14 Januarie) tot 15 Februarie. Op Facebook en op Twitter.

Volg ons en neem gerus deel.

Neologismes (Deel 1)

Woordeboeke bied baie soorte inligting, maar die gemiddelde woordeboekgebruiker stel veral in die woordeskat, die lemmaversameling, van ’n woordeboek belang.

’n Nuwe, hersiene uitgawe van ’n verklarende woordeboek word gewoonlik heel eerste beoordeel op grond van hoe goed dit – deur die opname van “nuwe woorde” – nuwe ontwikkelings in die leefwêreld van sy gebruikers weerspieël. Ontwikkelings aan die sosiale en politieke front, op die gebied van die wetenskap, tegnologie, medisyne, ensovoorts, ensovoorts. Maar waar kom al hierdie nuwe woorde vandaan? Waar moet hulle vandaan kom? Wie maak hulle, dink hulle uit? Wie se werk ís dit nou eintlik?

In die spreektaal, wat gedurig bly verander, ontstaan nuwe woorde vir nuwe dinge spontaan; nuwe woorde word geskep, bestaande woorde aangepas, vreemde woorde by gespreksgenote van ander tale geleen ... Hou dit op, sterf die taal.

Gelukkig hóú sprekers van Afrikaans daarvan om nuwe woorde uit te dink. Kyk maar hoe plesierig dit soms op Facebook gaan!

Skrywers, vertalers, subredakteurs by Afrikaanse koerante en tydskrifte worstel daagliks om nuwe Afrikaanse woorde vir ’n vloedgolf nuwe Engelse woorde en konsepte te vind, en terselfdertyd spertye te haal. Hulle speel ’n uiters belangrike rol.

Dikwels klop taalwerkers by woordeboekmakers aan op soek na bruikbare Afrikaanse vertalings vir Engelse woorde. En as die woordeboekmakers dan nóg in hulle woordeboeke nóg in hulle woordkorpusse ’n geskikte vertaling kan vind, sal hulle soms, self, ’n nuwe woord probeer maak, en dit voorstel.

Máár: sulke nuutskeppings word nié, dadelik, voor die voet, in papierwoordeboeke opgeneem nie. Woordeboekmakers mag nie, behóórt nie, self, agter hulle lessenaars, woorde vir hulle woordeboeke te sit en uitdink (of, in die geval van Afrikaans, soos in die verlede, uit Nederlandse woordeboeke sit en afskryf) nie! In elk geval nie meer vandag nie.

Een van die hooftake van ’n woordeboekmaker is om te gaan kyk presies hóé woorde régtig gebruik word, en hoe dikwels. Om in ’n gedrukte woordeboek van beperkte omvang opgeneem te word, moet elke woord eers aan baie spesifieke vereistes voldoen. ’n Woord moet as ’t ware sy plek in ’n gedrukte woordeboek verdien. (In ’n lewende, aanlyn woordeboek kan die deur dalk effens wyer oopgemaak word.)

In die nuwe, sesde uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (die HAT) word tans duisende nuwe Afrikaanse woorde opgeneem. Om hierdie woorde op te spoor word die gedrukte media (Afrikaanse koerante, tydskrifte, boeke, webblaaie) daagliks gefynkam. Groot tekskorpusse word deurgesoek. Leksikograwe luister met gespitste ore hoe mense praat, watter woorde hulle gebruik – oor die radio, op televisie, op straat ... En elke keer as ons ’n nuwe woord raaklees, raakhoor, wanneer ’n gebruiker vir ons ’n nuwe woord stuur, onderwerp ons dit eers aan Allan Metcalf se FUDGE-toets.

Die Engelse akroniem FUDGE staan vir ...
Frequency of use”: gebruiksfrekwensie. Allereers moet ons vasstel of ons “nuwe” woord in die gedrukte media – veral in die geval van HAT, wat die standaardvariëteit van Afrikaans weerspieël – darem al ’n beduidende aantal kere gebruik is.
Unobtrusiveness”: onopvallendheid, onopdringerigheid. ’n Nuutskepping wat soos die spreekwoordelike Engelse “seer vinger uitstaan”, se kans om in Standaardafrikaans ingeburger te raak, is skraal. ’n Woord moet naamlik pas in die konteks en register waarin dit gebruik word; ’n formele woord benodig ’n formele(rige) vertaling, ’n neutrale woord ’n neutrale vertaling; informeel pas by informeel, skertsend by skertsend, ens.
Diversity of users and situations”: bruikbaarheid in ’n verskeidenheid tekste, deur verskillende gebruikers. ’n Woord met ’n hoë gebruiksfrekwensie, maar waarvan al die voorkomste in bv. ’n enkele boek vindbaar is, met geen enkele optekening daarbuite nie, is nog lank nie op pad om ingeburger te raak in ’n taal nie. So ook nie ’n koerantwoord wat by herhaling deur slegs een sport- of motorrubriekskrywer gebruik word, en nooit deur enigiemand anders nie. Die “beste” woorde is soos masels: hoogs aansteeklik.
Generation of other forms and meanings”. Kan die woord verbuig – meervoude, verkleinwoorde, die verlede tyd vorm? Kan daar afleidings van gevorm word? Deug dit in samestellings? Is daar ’n moontlikheid van betekenisuitbreiding, figuurlike gebruik?
Endurance of the concept”: duursaamheid. ’n Stygende, standhoudende frekwensie gee die deurslag. Anders bly ’n nuutskepping, hoe vindingryk ook al, ’n eendagsvlieg, ’n modewoord wat ’n kort tydjie lank gebruik word, en dan suutjies uit die taal verdwyn.

Slegs as woordeboekmakers tevrede is dat ’n woord aan genoeg van hierdie kriteria voldoen, het ’n woord sy plek in ’n papierwoordeboek, wat self nie ’n eendagsvlieg is nie, verdien.

2013-01-10

Die windoog is die venster



Die woorde “venster” en “window” interesseer my nog altyd veral aangesien die Afrikaanse woord uit Latyn uit kom terwyl daar in Engels juis ’n Germaanse woord “window” gebruik word.

Die Engelse woord “window” het ’n Skandinawiese oorsprong en selfs ’n ouerige bron soos Skeat (1897:564) noem dat die woord letterlik “windoog” beteken. Die woord vindauge (sekere bronne sê weer vindauga) kan teruggevoer word na Oudnoorse stamme vindr (lug) en auga (oog). Die AHD verklaar dat openings in mure wind ingelaat het in ’n tyd toe daar nie glas voor vensters geplaas is nie, dus ’n oog vir die wind om in te kom. In die Skandinawiese tale is die woord ook nog in gebruik met: Noorweegs: (Bokmål: vindu en Nynorsk: vindauge), Sweeds (vindöga saam met fönster) en Deens (vindue). In Yslands word die woord “gluggi” egter gebruik waarvan die oorsprong te doen het met die glasruit van die venster. Van die muur af het die blokkies op jou rekenaarskerm ook al die naam windows aangeneem!

’n Mens wonder tog of die Latynse stam dan Engels ontglip het. Die Engelse het dan tog ’n venster ook ’n éagþyrel (Oudengels vir “oogdeur”) en selfs die Franse fenester in die verlede genoem. Die woord word vandag nog sowaar behou met ’n woord soos “fenestra” (opening in ’n been, ’n deurskynende kol of merk by ’n vlerk van ’n mot of skoenlapper of by ’n vensteragtige opening in die argitektuur). Asook die wonderlike werkwoord “defenestrate” wat beteken om iets by die venster uit te gooi.

Die Afrikaanse (en Nederlandse) woord “venster” kom uit Middelnederlandse vei(n)ster(e) wat uiteindelik kom van die Latynse woord “fenestra”. Dit is volgens die Etimologiewoordeboek van Afrikaans (2003) ’n “ruitlose opening in die muur, aangesien glas voor die Romeinse Keisertyd nog nie in ruitvorm voorgekom het nie”. Die woord “raam” vir ’n venster word ook in Etimologiewoordeboek van Afrikaans teruggevoer na Middelnederlands. Maar anders as in Nederland sal ons in Suid-Afrika eerder die venster as die raam oop en toe maak. Hier aan die suide is die raam mos dit om die venster! Die Van Dale (1982:859) beskryf ’n raam as ’n “glasruit met haar omlijsting”. Soos met “dam” sal ons tussen Nederlands en Afrikaans moet “agree to disagree”!

Afrikaans is nie die enigste taal wat die Latynse woord behou het nie en dit kom ook in Duits (Fenster), Sweeds (fönster – al word vindöga ook soms gebruik) en natuurlik in enkele ander tale voor: Italiaans (finestra), Albanees (fënjeshtër), Frans (fenêtre), Romeens (fereastră), Katalaans (finestra) en selfs Wallies (ffenest).

In die Suid-Afrikaanse konteks het die paadjie van die Latynse fenestra nog ’n entjie via leenwoorde uit Afrikaans verder geloop en is die woord duidelik sigbaar in Noord-Sotho (fastêrê), Sesotho (fenstere), Swati (lifasitelo), Tsonga (fasitere/festere), Tswana (fensetere), Venda (fasitere), Xhosa (ifestile) en Zulu (ifasitela; tog word iwindi ook gebruik!).

Of jy dus vandag deur ’n venster, raam, fënjeshtër, window of ifasitela na buite loer dink daaraan dat sonder hierdie woorde ons nooit sou kon lees van:

ek maak die venster oop
en die son kom drink
met ’n helder tong
aan die wyn in my glas
(die gat in die lug, Breyten Breytenbach)

But, soft! what light through yonder window breaks?
(Romeo and Juliet, William Shakespeare)


Bronne geraadpleeg
American Heritage Dictionary.  2012. Defenestrate. http://ahdictionary.com/word/search.html?q=defenestrate   Datum van gebruik: 17 Des. 2012.
American Heritage Dictionary.  2012. Fenestra. http://ahdictionary.com/word/search.html?q=fenestra  Datum van gebruik: 17 Des. 2012.
American Heritage Dictionary.  2012. Window. http://ahdictionary.com/word/search.html?q=window  Datum van gebruik: 17 Des. 2012.
Cloete, A.E., Jordaan, A., Liebenberg, H.C., Lubbe, H.J.  2003.  Etimologiewoordeboek van Afrikaans.  Stellenbosch: Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.
De Tollenaere, F. & Persijn, A.J.  1982.  Van Dale Nieuw handwoordenboek der Nederlandse taal.  Utrecht : Van Dale Lexicografie.
Skeat, W.W.  1897.  A concise etymological dictionary of the English language.  Oxford: Clarendon.
Wiktionary. 2012. Window. http://en.wiktionary.org/wiki/window Datum van gebruik: 17 Des. 2012.

Jako Olivier, Noordwes-Universiteit