2013-01-12

Neologismes (Deel 1)

Woordeboeke bied baie soorte inligting, maar die gemiddelde woordeboekgebruiker stel veral in die woordeskat, die lemmaversameling, van ’n woordeboek belang.

’n Nuwe, hersiene uitgawe van ’n verklarende woordeboek word gewoonlik heel eerste beoordeel op grond van hoe goed dit – deur die opname van “nuwe woorde” – nuwe ontwikkelings in die leefwêreld van sy gebruikers weerspieël. Ontwikkelings aan die sosiale en politieke front, op die gebied van die wetenskap, tegnologie, medisyne, ensovoorts, ensovoorts. Maar waar kom al hierdie nuwe woorde vandaan? Waar moet hulle vandaan kom? Wie maak hulle, dink hulle uit? Wie se werk ís dit nou eintlik?

In die spreektaal, wat gedurig bly verander, ontstaan nuwe woorde vir nuwe dinge spontaan; nuwe woorde word geskep, bestaande woorde aangepas, vreemde woorde by gespreksgenote van ander tale geleen ... Hou dit op, sterf die taal.

Gelukkig hóú sprekers van Afrikaans daarvan om nuwe woorde uit te dink. Kyk maar hoe plesierig dit soms op Facebook gaan!

Skrywers, vertalers, subredakteurs by Afrikaanse koerante en tydskrifte worstel daagliks om nuwe Afrikaanse woorde vir ’n vloedgolf nuwe Engelse woorde en konsepte te vind, en terselfdertyd spertye te haal. Hulle speel ’n uiters belangrike rol.

Dikwels klop taalwerkers by woordeboekmakers aan op soek na bruikbare Afrikaanse vertalings vir Engelse woorde. En as die woordeboekmakers dan nóg in hulle woordeboeke nóg in hulle woordkorpusse ’n geskikte vertaling kan vind, sal hulle soms, self, ’n nuwe woord probeer maak, en dit voorstel.

Máár: sulke nuutskeppings word nié, dadelik, voor die voet, in papierwoordeboeke opgeneem nie. Woordeboekmakers mag nie, behóórt nie, self, agter hulle lessenaars, woorde vir hulle woordeboeke te sit en uitdink (of, in die geval van Afrikaans, soos in die verlede, uit Nederlandse woordeboeke sit en afskryf) nie! In elk geval nie meer vandag nie.

Een van die hooftake van ’n woordeboekmaker is om te gaan kyk presies hóé woorde régtig gebruik word, en hoe dikwels. Om in ’n gedrukte woordeboek van beperkte omvang opgeneem te word, moet elke woord eers aan baie spesifieke vereistes voldoen. ’n Woord moet as ’t ware sy plek in ’n gedrukte woordeboek verdien. (In ’n lewende, aanlyn woordeboek kan die deur dalk effens wyer oopgemaak word.)

In die nuwe, sesde uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (die HAT) word tans duisende nuwe Afrikaanse woorde opgeneem. Om hierdie woorde op te spoor word die gedrukte media (Afrikaanse koerante, tydskrifte, boeke, webblaaie) daagliks gefynkam. Groot tekskorpusse word deurgesoek. Leksikograwe luister met gespitste ore hoe mense praat, watter woorde hulle gebruik – oor die radio, op televisie, op straat ... En elke keer as ons ’n nuwe woord raaklees, raakhoor, wanneer ’n gebruiker vir ons ’n nuwe woord stuur, onderwerp ons dit eers aan Allan Metcalf se FUDGE-toets.

Die Engelse akroniem FUDGE staan vir ...
Frequency of use”: gebruiksfrekwensie. Allereers moet ons vasstel of ons “nuwe” woord in die gedrukte media – veral in die geval van HAT, wat die standaardvariëteit van Afrikaans weerspieël – darem al ’n beduidende aantal kere gebruik is.
Unobtrusiveness”: onopvallendheid, onopdringerigheid. ’n Nuutskepping wat soos die spreekwoordelike Engelse “seer vinger uitstaan”, se kans om in Standaardafrikaans ingeburger te raak, is skraal. ’n Woord moet naamlik pas in die konteks en register waarin dit gebruik word; ’n formele woord benodig ’n formele(rige) vertaling, ’n neutrale woord ’n neutrale vertaling; informeel pas by informeel, skertsend by skertsend, ens.
Diversity of users and situations”: bruikbaarheid in ’n verskeidenheid tekste, deur verskillende gebruikers. ’n Woord met ’n hoë gebruiksfrekwensie, maar waarvan al die voorkomste in bv. ’n enkele boek vindbaar is, met geen enkele optekening daarbuite nie, is nog lank nie op pad om ingeburger te raak in ’n taal nie. So ook nie ’n koerantwoord wat by herhaling deur slegs een sport- of motorrubriekskrywer gebruik word, en nooit deur enigiemand anders nie. Die “beste” woorde is soos masels: hoogs aansteeklik.
Generation of other forms and meanings”. Kan die woord verbuig – meervoude, verkleinwoorde, die verlede tyd vorm? Kan daar afleidings van gevorm word? Deug dit in samestellings? Is daar ’n moontlikheid van betekenisuitbreiding, figuurlike gebruik?
Endurance of the concept”: duursaamheid. ’n Stygende, standhoudende frekwensie gee die deurslag. Anders bly ’n nuutskepping, hoe vindingryk ook al, ’n eendagsvlieg, ’n modewoord wat ’n kort tydjie lank gebruik word, en dan suutjies uit die taal verdwyn.

Slegs as woordeboekmakers tevrede is dat ’n woord aan genoeg van hierdie kriteria voldoen, het ’n woord sy plek in ’n papierwoordeboek, wat self nie ’n eendagsvlieg is nie, verdien.

No comments:

Post a Comment