2013-01-12

Neologismes (Deel 2)

’n Seeskilpad lê ’n klomp eiers, maar slegs ’n hand vol van die skilpadjies wat uitbroei, oorleef en bereik volwassenheid. Met nuwe woorde gaan dit dieselfde. Daarom is dit belangrik dat sprekers van Afrikaans nuwe woorde bly skep.

By HAT hoor ons gereeld van gewone taalgebruikers wat nog net so graag soos in die ou dae vir nuwe Engelse woorde Afrikaanse ekwivalente bedink. Wanneer hulle daarin slaag, blom hulle taaltrots. Maar ons hoor ewe gereeld van ’n groeiende persentasie (jong) Afrikaanse mediawerkers wat (om verskeie redes wat aangevoer word) vandag heelwat minder entoesiasties is oor nuutskepping as hulle voorgangers.

Tot in die laat 1990’s het Afrikaanse koerante nog taalrubrieke gehad. In Die Burger was daar bv. “Taalskatkis” wat behartig is deur taalkenners soos wyle prof. Johan Combrink, Johan Spies en J.J.J. (“Trippel J”) Scholtz.

Ek het onlangs weer in Media24 se koerantargiewe gaan kyk na wat Johan Combrink en ander oor nuutskeppings te sê gehad het.

Kyk ons vandag na van die voorbeelde wat in hierdie ou rubrieke uitgelig is, sien ons dadelik dat baie – trouens, die meeste – van die voorstelle van lesers van destyds, onsuksesvol was. Maar gelukkig was daar ook talle pogings wat vandag deeglik ingeburger is in Afrikaans. Woorde soos kitskoffie, buislig, moltrein, hysbak, bromponie, slypskool, e-pos, MIV, vigs ...

Oor fopdosser skryf Combrink destyds: “Die woord staan ook nog nie in ons tweetalige woordeboeke nie. Dit is naamlik ’n blosnuwe neologisme. En ek dink ’n baie geslaagde. ’n Fopdosser is wat in Engels ‘somebody in drag’ genoem word, veral dan ’n man wat vroueklere dra (plus al die ander vroulike by- en toebehore, soos hoëhakskoene en maskara).”

Nou ja, vandag staan fopdosser in ons woordeboeke; dit moet dus aan die vereistes van die FUDGE-toets voldoen het. Maar dalk net-net. Want hoewel ’n mens dié woord nou en dan geskryf sien, vermoed ek die meeste Afrikaanses verkies die Engelse drag queen.

En ons kán en ons mág maar soms woorde by Engels, én by ander tale, gaan leen. As die meeste gebruikers bly lag kry vir toep (meervoud: toeps) en niemand maar niemand, ten spyte van al die baie probeerslae, aan iets beters kan dink nie, bly ’n app (helaas, maar nietemin) ’n app in Afrikaans.

Deur die jare het ons ’n klomp nuttige, nodige woorde by Engels gekry: cottage, deodorant, essay, establishment, franchise, fudge, gay, gentleman, gospel ... Dis nie waar die knoop lê nie. Waaroor ’n mens miskien wel ietwat besorg kan wees, is dat ons al hoe meer verdagte gevalle van kodewisseling teëkom. Nie meer net in die informele spreektaal, en in die taal van jong mense nie, maar veral ook in die formele(r) Standaardafrikaans van talle volwasse sprekers – én skrywers. D.i. woorde waarvoor daar almal een of meer algemeen gebruikte, eietydse Afrikaanse ekwivalente bestaan: brag (spog), casual (informeel, ongeërg), cheeky (astrant), clue (benul, idee), cute (oulik), fine (goed), gut feeling (kropgevoel), happening (gebeurtenis, okkasie), moan (kla), queue (ry, tou), panic, stunning, song, weird, amazing, ... Noem maar op. Om van oorgeklankte Engels – met iets deel, uitmis op, ek doen, ens. – nie te praat nie.

Natuurlik verander tale. Gedurig. Dis ’n normale proses. Weens verskeie faktore wat daarop inwerk, verander hedendaagse Afrikaans dalk net effentjies te vinnig?

Waar anglisismevrees in die verlede dikwels daartoe gelei het dat die baba saam met die badwater uitgegooi is, kan ’n mens dalk aanvoer dat regstellende aksie in dié verband vandag dalk nét té ver gevoer word? Dat gebruikers dalk nie meer altyd so mooi tussen die badwater en die baba kan onderskei nie, of dat ’n gelatenheid ingetree het van “dit help tog nie meer om – in die Engelse wêreld waarin ons leef – teen die prikkels te skop nie”?

Toe Leon van Nierop van RSG my ’n dag of wat gelede vra om Sondag in die program “Die tale wat ons praat” oor neologismes te kom gesels, was dit ’n paar van die gedagtes wat by my opgekom het.

En by HAT besluit ons toe sommer ook om weer ’n slag – soos Die Burger van ouds (maar wat vandag, nes sy susters Beeld, Volksblad en Rapport, lankal nie meer plek het vir rubrieke oor taal nie) – ’n neologisme-kompetisie te hou.

Van Maandag (14 Januarie) tot 15 Februarie. Op Facebook en op Twitter.

Volg ons en neem gerus deel.

1 comment:

  1. Fopdosser het sopas my gunstelling Afrikaanse neologistiese woord geword. Dit sê so lekker en veral omdat so min mense van die woord weet, sal ek dit nou baie gereeld gebruik. Knap gedaan.

    ReplyDelete