2015-06-30

HAT6 vier Afrikaans in al sy verskeidenheid

Geen natuurlike taal is in alle opsigte ’n eensoortige ding wat in alle omstandighede deur alle moedertaalsprekers op dieselfde manier gebruik word nie. Daar is verskillende vorme van die betrokke taal, wat variëteite genoem word. Die variëteite is die vorme van die taal wat byvoorbeeld in sekere streke gebruik word, of deur sekere groepe, of in sekere omstandighede en so meer. Een van die variëteite van gestandaardiseerde tale is die sogenaamde standaardvariëteit. Dit geld ook Afrikaans: Die standaardvariëteit word Standaardafrikaans genoem, maar daar is ook talle niestandaardvariëteite. Daar is byvoorbeeld gebruikersgroepvariëteite soos Tienerafrikaans, Griekwa-afrikaans of Vissermansafrikaans, of streeksvariëteite soos Weskusafrikaans, Kaapse Afrikaans (Kaaps) of Namakwalandse Afrikaans, of gebruiksvariëteite soos Skryftaalafrikaans, Radioafrikaans of Kanselafrikaans, en so meer.

Standaardafrikaans behoort nie aan, of is nie die variëteit van, enige bepaalde groep of streek nie. Eenvoudig gestel is dit die variëteit wat die grootste mate van standaardisering toon, deur die grootste moontlike groep van Afrikaanssprekendes verstaan word, die minste verraai waarvandaan of uit watter groep die gebruiker kom en die beste geskik is vir sekere min of meer formele situasies of omstandighede. Standaardafrikaans (of die standaardvariëteit van ’n ander taal) sal ’n mens tipies aantref in byvoorbeeld handboeke, lesings, toesprake, die howe, standaardwoordeboeke, hoofstroomkoerante, wetgewing, werksonderhoude en so meer. Daarteenoor kan ’n mens die taal wat gemoedelik tussen vriende of gelykes in informele omstandighede gebruik word, geselstaal of omgangstaal noem.

Standaardafrikaans is nié “beter” of “meer korrek” as ’n ander variëteit nie, want elke variëteit vervul die rol waarvoor hy ontstaan het. ’n Mens kan alleen sê dat een variëteit in bepaalde situasies dalk meer geskik of gepas is as ’n ander. In byvoorbeeld ’n brief aan jou werkgewer of ’n aansoek om ’n betrekking of ’n wetenskaplike artikel is die standaardvariëteit meer gepas as die taal wat jy gebruik om op die sosiale media met jou vriende te gesels, of as jy saam met vriende by die sportveld is of vleis braai.

Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal is veral gemoeid met Standaardafrikaans, maar ons vier Afrikaans in sy volle verskeidenheid.

Tom McLachlan en Jana Luther

2015-06-24

Die 6de uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal is ampertjies hier!

Gedurende die eerste halfeeu van sy bestaan in Suid-Afrika is die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal as gesaghebbende naslaanbron gevestig. Vir menige Afrikaanstalige is die HAT vandag ’n huishoudelike naam. Die eerste uitgawe van die woordeboek het in 1965 verskyn, saamgestel deur P.C. Schoonees, C.J. Swanepoel, S.J. du Toit en C.M. Booysen. Van die tweede uitgawe (1979) en derde uitgawe (1993) was François F. Odendal, professor in Afrikaanse en Nederlandse taalkunde aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit, later afgetree, die hoofredakteur. Vir die werk aan die vierde uitgawe (2000) sluit Rufus H. Gouws, professor in Afrikaanse taalkunde in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch, hom by Odendal aan. Saam versorg dié twee redakteurs ook die vyfde uitgawe (2005).

Ná 2005 bly prof. Gouws as konsult- en nasienredakteur by die HAT betrokke. In 2007 stel die uitgewer, Pearson Suid-Afrika, die HAT se eerste voltydse uitgewersredakteur, die leksikograaf Jana Luther, aan. In 2012 kom nog ’n voltydse leksikograaf, Fred Pheiffer, by. Saam pak dié triumviraat ’n omvattende herbewerking en uitbreiding van die HAT aan. Die resultaat – die grootste hersiening sedert die verskyning van die derde uitgawe in 1993 – is hierdie woordeboek, waarvan die verskyning in 2015 saamval met die herdenking van die HAT se vyftigjarige bestaan. In die geskiedenis van die HAT en van die Sisifusarbeid van sy makers is die sesde uitgawe ’n belangrike mylpaal.

Die nuwe papier-HAT beslaan 1 632 bladsye, meer as 200 bladsye meer as die vorige uitgawe. Meer as 100 000 trefwoorde met hulle verbuigings-, vervoegings- en iteratiewe vorme, kollokasies, uitdrukkings, samestellings en afleidings is in die nuwe woordeboek opgeneem. Toe die elektroniese teks van die vyfde uitgawe in 2008 in ’n nuwe, moderne werkbank ingetrek is, was die totale woordtelling 1,5 miljoen. By die ter perse gaan van die sesde uitgawe in Mei 2015 staan die woordtelling van die nuwe HAT op 2,1 miljoen. Elke inskrywing (optekenings in altesaam 493 147 afsonderlik gemerkte velde in die elektroniese databasis) is hersien, insluitende 128 408 woordverklarings en 78 234 voorbeeldsinne en -frases. Altesaam 3 228 nuwe trefwoorde is in die nuwe uitgawe bygevoeg en 5 365 nuwe betekenisonderskeidings. Herkoms- en gebruiksetikette en etimologiese inligting is nagesien en uitgebrei. Die lys afkortings agter in die vyfde uitgawe is hersien en in die sesde uitgawe alfabeties by die hoofteks gevoeg. Meer as 3 000 ouer woorde en uitdrukkings, wat vandag omtrent nooit meer gehoor word nie, is uit die papierwoordeboek weggelaat. Hierdie woorde, waarvoor daar in die gedrukte woordeboek nie meer plek is nie, word behou in ’n nuwe, lewende moederwoordeboek aanlyn.

Anders as in die geval van die groot, meerdelige Woordeboek van die Afrikaanse Taal (die WAT), ’n omvattende woordeboek wat nie net die taal van die hede en die onlangse verlede beskryf nie, maar ook ouer Afrikaanse woorde en streek- en spreektaalvorme, ondersoek en belig die samestellers van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (die HAT) eietydse taalgebruik: Afrikaans soos dit vandag in veral geskrewe tekste, maar ook oor die radio, op televisie en in die sosiale media gebruik word.

Buiten korrekte spelling is die hooffunksie van die HAT nié voorskrywing nie. Die samestellers probeer verteenwoordigend verslag doen van hoe Afrikaans vandag gebruik word. As standaardwoordeboek beskryf die HAT veral die verskuiwende standaardvariëteit van Afrikaans. Dit sluit ’n beperkte dog groeiende versameling in van leksikale items uit van die ander variëteite (wat vollediger in die WAT bewerk word).

In duisende Afrikaanse huise is daar vandag ʼn eksemplaar van die HAT, bes moontlik meer as een. Van die jare sestig af was daar vir elke dekade ’n nuwe uitgawe. ’n HAT van die 1970’s, 1980’s, 1990’s, selfs die HAT van 2005, weerspieël egter ’n verbygegane era.

Die wêreld en die leefwêreld van Suid-Afrikaners het in die afgelope dekades in groot mate verander. So ook Afrikaans, want geen taal bly in ’n tyd van verandering ongerep nie. ’n Taal eggo die gemeenskap wat dit gebruik; dit reflekteer wat gaande is in die land en die wêreld waarin sy sprekers hulle op ’n spesifieke tydstip bevind. Dat die plaaslike omwenteling ook in Afrikaans sou neerslag vind; dat die ontwikkeling op politieke, ekonomiese, sosiale en tegnologiese gebied, wêreldwyd, voortdurend op Afrikaans inwerk: dit spreek vanself.

In Suid-Afrika waarborg die Grondwet vandag die basiese regte van elke mens, ongeag geslag, etnisiteit, taal, geloof of seksuele voorkeur. Ons natuurlike erfenis word beskerm. In teenstelling hiermee laat die Afrikaans van ’n paar dekades gelede dikwels ’n chauvinistiese houding blyk. In baie ouer tekste val ’n naïewe onbewustheid op van die impak van menslike bedrywighede op ’n brose ekosisteem.

In die vyfde uitgawe van die HAT staan talle van die woorde, uitdrukkings en idiome van dié verlede nog ingebed. Daarom was dit weer eens nodig dat ’n nuwe uitgawe die vorige se plek inneem: ’n HAT vir vandag. ’n HAT wat eietydse Afrikaans weerspieël.

Naas die idiomatiek wat Afrikaans se agrariese verlede vergestalt, gee die nuwe HAT blyke van ’n inklusiewer taalgemeenskap: jonk, modern, verstedelik, wêreldwys. Nuwe, omgewingsvriendelike definisies en voorbeeldsinne maak die HAT groener.

Soos die geskiedenis van elke naslaanwerk bewys, is ’n woordeboek van ’n lewende taal nooit volledig nie. Daarom word die werk aan die HAT ná die verskyning van die gedrukte woordeboek voortgesit. HAT Aanlyn, die nuwe, lewende HAT van Afrikaans op die internet, word voortaan maandeliks bygewerk, aangevul deur ensiklopediese inskrywings en notas oor taalgebruik.

In die loop van ons werk aan hierdie uitgawe het die redaksie van baie gebruikers kommentaar en wenke ontvang. Gereelde gebruikers van die HAT het leemtes uitgewys en aanbevelings vir verbetering gedoen: in gesprekke, in briewe en in e-posse, per telefoon en, meer onlangs, veral ook waar ons daagliks deelneem aan van die tallose lewende – dikwels lewendige! – gesprekke gevoer deur taalwerkers en -liefhebbers in velerlei groepe op Facebook en ander sosialemediaplatforms. Naas voortgaande ekserpering van gedrukte bronne en die groot, elektroniese teksargiewe en woordkorpusse wat ons gebruik, bied regstreekse insae in die werk van Afrikaanse joernaliste, teksredakteurs, skrywers en vertalers – taalberoepslui en taalbelangstellendes wat intyds oor taalprobleme en taalinteressanthede, Afrikaanse nuutskeppings en terminologie uit die voortskrydende wêreldtaal Engels gesels – vir woordeboekmakers ryke stof tot nadenke en navorsing.

Ons spreek graag ons opregte dank uit teenoor elke lid van hierdie groeiende HAT-gemeenskap. In die era van die internet het julle kommentaar op ons werk onontbeerlik geword. Ons betuig ook ons hartlike dank aan elke lid van die redaksionele span, dié wat lank saam met ons gewerk het én dié wat net vir ’n kort rukkie gehelp het om hierdie jubileumuitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal tot stand te bring.

Jana Luther, Fred Pheiffer, Rufus H. Gouws
Mei 2015

*Die sesde uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, omvattend bygewerk en uitgebrei, en die nuwe HAT Aanlyn, word op 15 Julie 2015 by die Afrikaanse Vryfees in Bloemfontein bekendgestel.