2015-07-01

Waar die mond van vol is, loop die HAT van oor


Daar is ʼn mooi anekdote van ’n vrou wat vroegaand tydens beurtkragdonkerte in haar kombuis ’n vreemde geluid hoor. By nadere ondersoek sien sy toe ’n mol wat via die oop agterdeur die kombuis ingekom het en stewig op pad is na die aangrensende gesinskamer.

Sy het geen hartstog vir molle gehad nie maar wou ook nie die knaagdiertjie molesteer nie. Sy het geweet haar seun wat aanstons tuis sou wees, sou in die mol belangstel. Toe gryp sy ’n roomysbak en sit dit oor die mol om hom te vang. Sy het skaars haar rug gedraai toe sy weer iets hoor. Met die omkyk sien sy die roomysbak is aan ’t beweeg. Sy vat toe ’n pan en sit dit bo-op die roomysbak bo-op die mol. Net toe gaan die krag aan en vanuit die gesinskamer hoor sy Sewende Laan se nuwe kenwysie. Sy stap daarheen en in die deur draai sy om – want die pan met die roomysbak met die mol beweeg weer vorentoe. Op die kaggelrak in die gesinskamer, tussen Die Bybel en Die Burger staan die HAT – en dié plaas sy toe bo-op die pan, bo-op die roomysbak, bo-op die mol. En die mol het nie weer beweeg totdat haar seun huis toe gekom het nie.

Die afgelope vyftig jaar was HAT ’n praktiese gebruiksinstrument in baie huise – soms om molle te vang, soms om blomme in te pars en, by uitstek, as deurstop. HAT het deel van Afrikaanse huishoudings geword – ’n vriendin het vir haar dogter met dié se kombuistee ’n HAT gegee, want wat is ’n huis sonder ’n HAT? Vir haar ooievaarstee sal sy seker ’n Klein HAT kry.

Maar die werklike doel van HAT is nie om molle te vang , maar om die taal vas te vang en vryheid aan sy gebruikers te kan gee. Die werklike doel van HAT is nie om dooie blomme pars nie, maar om die bloeisels van ’n lewende taal te vertoon. Die werklike doel van HAT is nie om ’n statiese deurstop te wees nie, maar om die deur van taal en kennis oop te maak. Die sewentiende-eeuse leksikograaf Amos Komensky se woordeboek het die titel gehad Ianua Linguarum Reserata - Die poort van tale ontsluit. Dit is wat HAT wil doen. HAT wil die poorte van taal ontsluit om aan sy gebruikers toegang tot kennis te gee.

Vanjaar vier ons 90 jaar wat Afrikaans as onderrigtaal erken is. Vir ’n beduidende deel van hierdie tyd het HAT ’n belangrike ondersteunende rol gespeel. In baie klaskamers, studeerkamers en werkkamers was dit die gesaghebbende bron van inligting. Soos Afrikaans verander het, het HAT ook verander en deurgaans op ’n dinamiese manier die taalverandering weerspieël. HAT het nie probeer om voor te skryf nie, maar eerder om te beskryf wat in die taal werksaam is. HAT was nie net op kanseltaal gerig nie maar ook op die taal van ons oggend- en aandpraatjies. HAT wil die werklike Afrikaans weergee want waar die mond van vol is, loop die HAT van oor!

HAT was in baie opsigte ’n baanbreker. In 1998 met die werk aan die vierde uitgawe was HAT een van die eerste Suid-Afrikaanse woordeboeke om op CD-ROM te verskyn. In 2015 word HAT aanlyn bekendgestel. Nou is dit nie net meer “Wat is ’n huis sonder ʼn HAT?” nie, maar ook “Wat is die internet sonder ʼn HAT?”

Die vorige uitgawes van HAT is deurgaans deur deeltydse leksikograwe saamgestel: Schoonees, Swanepoel, Du Toit en Booysens as samestellers van die eerste uitgawe in 1965; Odendal van die tweede en derde uitgawes (1979 en 1994) en Odendal en Gouws van die vierde en vyfde uitgawes (2000 en 2005). Vir die sesde uitgawe het Pearson twee voltydse leksikograwe aangestel: Jana Luther en Fred Pheiffer, om saam met Rufus Gouws as redakteurs op te tree.

Leksikografie is nie net ʼn stokperdjie nie; dit is ʼn leefwyse. Drie dae voor sy dood het Francois Odendal aan my gesê dat daar ʼn paar goed is wat hy nog in HAT wil verander. Hopelik is sy wense in HAT6 deurgevoer. Met hierdie uitgawe eer ons ook sy nagedagtenis.

HAT is daar vir die volle Afrikaanse taalgemeenskap: vir almal wat in en met Afrikaans op reis is. Van Parow tot Polokwane, van Keimoes tot Kokstad: met die HAT in die hand, kom jy deur die hele land.

Rufus Gouws by die mediabekendstelling van HAT6 op 25 Junie