2015-08-20

’n Afrikaanse woordeboek vir die 21ste eeu

Tien jaar ná die verskyning van die vyfde uitgawe van die HAT is die sesde uitgawe op die rakke. Wat het verander? Ná my en Jana se aanstelling deur Pearson, die wêreld se grootste opvoedkundige maatskappy, werk daar vir die eerste keer twee voltydse leksikograwe aan die HAT, terwyl prof. Rufus Gouws van die Universiteit van Stellenbosch as deeltydse redakteur aanbly. Dit skep die geleentheid vir ’n deurdringende hersiening van die teks.

As mens dink aan die byvoeging van nuwe woorde – daar is meer as 3 000 van hulle in HAT6 – is neologismes wat tegnologiese vooruitgang weerspieël, gewoonlik van die eerstes wat by ’n mens opkom. In vorige uitgawes van die HAT was daar byvoorbeeld heelparty samestellings met telefoon, soos telefoongids, telefoonpaal en telefoonhokkie. In die nuwe HAT is daar samestellings met wolk, soos wolkberging en wolkverwerking. Soos ’n flinke Superman wat van sy kantoorpak in ’n telefoonhokkie ontslae raak, het die HAT in die wolke in opgevlieg. Ons Afrikaanssprekende tonge geniet vandag smake van die wêreld oor. In die ou dae was ons tevrede met stoweappels, stowepere en stowepatats; nou smul ons aan espetada, teppanjaki en tandoori-hoender. Woorde soos stylghoeroe, blieng, verslankingsklub en vertelkunsterapie wys die HAT bly op die hoogte en in die mode. Woorde soos tikkop, tiksmous en tikhuis wys die HAT is ook van die donker kant van ons samelewing bewus.

Argaïese woorde en uitdrukkings is uit die nuwe papier-HAT verwyder, maar hulle is nie in die doofpot gestop nie. Die nuwe, onverkorte HAT is van Augustus af op die internet raadpleegbaar. Hier, waar ruimte onbeperk is en die redakteurs die woordeboek deurentyd kan bywerk, kry ou woorde en uitdrukkings ’n nuwe tuiste en lewe. Die aanlyn HAT is soepel, gevoelig vir tendense en die kommentaar van sy gebruikers. Leemtes en gebreke, wat onder die woordeboekmakers se aandag kom, kan vinnig aandag kry.

Die byvoeging van nuwe stof en die verwydering van die oue is redelik maklik. Heelwat moeiliker is die uitkenning van omskrywings, voorbeeldsinne en uitdrukkings wat nog ’n ouer tydgees weerspieël. Hoe pas ons inskrywings by die 21ste eeu aan? Afrikaanssprekendes is byvoorbeeld lankal nie meer agraries en behep met die plaas en die jag nie. Nee, hulle is veral ook jonk en verstedelik en kosmopolities ingestel.

In die konstitusionele staat waarin die HAT voortbestaan, staan menseregte en menswaardigheid voorop. Hoe vereenselwig ons ’n uitdrukking soos "op jou bas kry" met dié konteks? Afrikaans wemel nog van uitdrukkings met lyfstraf en fisieke geweld as tema. Hoe om hierdie uitdrukkings in ’n woordeboek van eietydse Afrikaanse te weerspieël en te verklaar ... Dit kan die woordeboekmaker soms goed laat kopkrap.

Die groter bewustheid van die leefwêreld van sy gebruiker het ook ’n groener HAT tot gevolg. In vorige uitgawes is die olifant in terme van sy kosbare ivoor beskryf, walvisse in terme van die olie wat hulle lewer. Kleinwild is sonder skroom in terme van die jag beskryf. In HAT6 sê ons bloot watter diere as kleinwild beskou word. Die voorbeeldsin meld dat boere aangemoedig word om kleinwild op hulle plase aan te hou om daardeur jakkalse van hulle vee af te probeer weghou.

Die nuwe HAT is, ten slotte, ook ’n woordeboek vir ’n ruimer taalgemeenskap. Met die hulp van prof. Frank Hendricks en lede van die Universiteit van Wes-Kaapland se Departement Afrikaans en Nederlands het ons reeds ’n goeie gros eg Kaapse woorde opgeneem, soos gattas (polisie), mang (tronk), piemp (verklik), poenankies (fraai, oulik), skanghagha (in die haak) en tiep (’n roes uitslaap). Ook heelwat Moesliem-woorde is ingesluit, soos fadjer (oggendgebed), koenoet (gebed van gehoorsaamheid), pwasa (vastyd), sjoekran (dankie) en wieter (’n naggebed). Die kennis van Mahdi Abrahams, ’n ou kennis van my en eienaar van die Readers’ Den-comicswinkel, was hier van groot hulp.

Negentig jaar gelede het die HAT ontkiem as uiting van ’n eng nasionalistiese trots. Vandag omhels hy die hele taalgemeenskap. HAT6 erken en respekteer menswaardigheid, het ekobewus geraak, hou tred met nuwe tendense en tegnologie. Die nuwe HAT het die beperking van papier ontsnap. In die internetwolk, hoop ons, bly hy nog lank een van Afrikaans se vernaamste naslaanbronne.

Fred Pheiffer in gesprek met Ampie Muller in die program "Boekkeuse" op Fine Music Radio

2015-08-19

Oor Afrikanerskap

Ek lewer graag kommentaar op Albert Nothnagel (Die Burger, 14 Augustus 2015) se verwysing na HAT se “rassistiese blaps” in die definisie van Afrikaner.

In die verklaring van woordbetekenis gee ’n handwoordeboek soos HAT daardie waarde(s) wat algemeen geken en gebruik word – nie noodwendig die betekenis wat die leksikograaf self aan die woord sou wou heg nie.

’n Gedrukte woordeboek het ruimteprobleme en betekenisverklarings word dikwels volgens vasgestelde woordeboekkonvensies in verdigte vorm aangebied; ook die verklaring van Afrikaner: “(veral wit) persoon (met ’n sterk gevoel van nasietrots) wie se moeder- of huistaal Afrikaans is.”

Volgens hierdie konvensie is die dele tussen hakies weglaatbaar en is die kernbetekeniswaarde: “persoon wie se moeder- of huistaal Afrikaans is”.

Dat die woord ook dikwels gebruik word om veral na wit mense te verwys en dat dit soms op ’n sterk gevoel van nasietrots dui, is steeds nie te betwyfel nie. Daarvan moet ’n woordeboek blyke gee. Maar dit is nie die hoofbetekeniswaarde nie en HAT dui dit so aan – en so ook die betekenisverskuiwing wat plaasgevind het.

Die onverklaarde samestellings “Afrikaner: ~dom, ~kind,~skap, ~volk” is voorbeelde van hoëgebruiksfrekwensiewoorde; daarom is hulle opgeneem; nie as “rassistiese sout” nie, maar as tipiese kombinasies waarin Afrikaner- steeds gebruik word.

HAT se bewerking van Afrikaner is nie volgens ideologiese oortuigings gedoen nie, maar volgens dit wat in die taal werksaam is. Dit is die opdrag aan ’n handwoordeboek.

Rufus Gouws